Archive | Desember, 2022

Asynribbetjie met bros kruie- en botter gegeurde braaiaartappels

21 Des

Drie lekker dinge op die bord is al wat jy nodig het vir ‘n feesmaal. Ek is baie lief vir my oond en as Beurtkrag my genadig is looi ek dit met die beste asynribbetjie in die wêreld, botter-braaiaartappels (die tweede lekkerste braaiaartappels ter wêreld …. Ma Inez s’n was die lekkerste) en daarby ‘n kraakslaai van rou beet, kool en vars pynappel wat ek bedien met suurroom- jogurt sous.

Die ribbetjie kry ook net 3 geurgoed: geskroeide koljander, sjerrieasyn en sout.

Bros-bros Braai-aartappels (gegeur met tiemie-, roosmaryn en knoffelbotter)

Die kors is ekstra-bros en soutig, die wolksagte binnekant is deurtrek met kruie en knoffelgeure Huiskok-Kombuis. Die bietjie koeksoda in die aartappel se kookwater dra by tot die kors se bros-bak.

2 kg aartappels, geskil

Paar takkies vars tiemie

2 takkies roosmaryn

90 g botter

3 vet knoffelhuisies, geskil en grofgekap

60 ml olyfolie

5 ml koeksoda

15 ml sout

Gemaalde peper

Voorverhit oond na 200°C.

* Sny geskilde aartappel in bonkige stukke, min of meer ewe groot.

* Bedek aartappelstukke in ‘n groot kastrol behoorlik met koue water, voeg koeksoda en sout by. Kook sowat 30 minute oor hoë hitte tot die aartappel redelik sag is maar nog hulle vorm behou.

* Maak intussen die gegeurde botter: Voeg die kruie saam met die knoffel, botter en olyfolie in ‘n kastrolletjie en verhit 2-3 minute oor matige hitte. Die knoffel moenie verbruin nie. Laat dit staan vir geure om te ontwikkel.

* Dreineer die gekookte aartappels in ‘n vergiettes en gee dit ‘n goeie skud. Laat afkoel vir 15 minute.

* Bak vir 30 minute en draai om. Bak nog 30-40 minute tot die aartappels goed bros en goudbruin is. Bedien dadelik. Wenk: jy kan dit ook by kamertemperatuur laat staan vir ‘n paar uur en weer goed opwarm … nie dat dit heeltemal dieselfde is nie!

* Bedek aartappels oral oor met die gegeurde botter, sommer direk in die oondskottel. (Moenie knoffelstukke en kruie in die pan sit nie – dit brand swart).

NIC SE ASYNRIBBETJIE

Eenvoudig hemels. Ek maak heel ribbetjie op geen ander manier nie.

1 heel lamsrib

15 -20 ml goeie asyn, plus ekstra vir bediening

sap van 1 suurlemoen

15 ml heel koljander, geskroei en fyn gestamp

seesout en peper na smaak

Voorverhit oond tot 230°C . Besprinkel die lamsrib met asyn, suurlemoen, koljander, sout en peper. Rooster 20-30 minute, draai die oond laer na 180°C en bak nog 20 minute tot brosbruin en sissend. Sprinkel nog asyn oor en sny die ribbes los in die oondbak, sodat die pansouse en die asyn kan vermeng.

Wenk: Maak vooraf halfgaar in die oond en rond af oor braaikole. Onthou die asyn.

Foto’s Ian Du Toit

Drie goeie goed op die bord.

Yakitori – Japanese hoenderspiesies oor die kole en uie-stokkiesbraai

19 Des

Ons entoesiasme vir braai vlam net verder op met die kragkrisis. Niks sal ons braaigees demp nie. Selfs al waai die Suidooster, of val ‘n somerreënbui uit soek ons ‘n beskutte hoekie op.

Yakitori, dié Japanese kuns van hoender-stokkiesbraai

Ek het onlangs die handigste klein, maar stewige hibachi tafel taaier as geskenk gekry vir my gereelde bloedskenk. Perfek vir my en Ian, en so verken ons in hierdie tye graag ander lande se braaikulture. Die ougat braai-gadget is net reg vir kos op stokkies, en so speel ons nou rond met yakitori – die Japanese se hoenderkebabs wat oor houtskool gebraai word. Die sticky aanverf-sousie verhef die alledaagse hoender tot die ster van die braai.

En wat ‘n interessante manier om uie ook op stokkies te braai.

Yakitori-spiesies en uie-stokkiesbraai

750g hoenderdyfilette, in 2,5 cm-blokkies gesny

Slaaiui stengels – wit dele en groen dele in 3 cm stukke gesny

4 klein wit uie, horisontaal in ringe van 1,3-1,5 cm dik gesny

* bamboesstokkies geweek in water vir 30 minute

Sous

185ml sojasous (Ek gebruik soms helfte ponzu)

185ml mirin

45 ml bruin suiker

60 ml ryswynasyn

2 Knoffelhuisies, fyngedruk,

Jy Kan ook gerasperde gemmer of rissie byvoeg of sesasamesaad of sesamolie

Voeg sousbestanddele in ‘n pot en bring tot kookpunt. Draai die hitte af tot medium laag en prut vir sowat 5 tot dit ‘n derde afgekook het.

Maak Yakitori-spiesies:

Rug beurtelings 3 hoenderstukke en 2 groenuiestukke in, eindig met hoender. (Ek vou die groen dele op).

Maak Uie stokkies:

Ryg 2 uieskywe, oorkruis, op elke stokkie.

Braai op yakitori rooster of braairooster. (Die rooster moet geolie wees). Die stokkies moet só ongeveer 5-6cm bokant die kole wees.

Gebruik ‘n kwas, bedruip albei kante van die hoender kebabs liggies met sous en braai vir sowat 4 minute. Draai hulle om en bedruip die onderkant (gaar kant) terwyl dit vir sowat 4 minute braai. Draai hulle weer om en bedruip die onderkant (gaar kant) terwyl dit vir nog 30 sekondes of so braai. Draai hulle nog een keer om en braai vir verdere 30 sekondes. Verwyder van die rooster en plaas dit op ‘n bord.

Fotos en stilering deur Ian en Errieda Du Toit

Banoffeetert Alaska met souttoffiestroop; BANOFFEE-TRIFLETERT EN TOFFIEGLASSKERWE

19 Des

Jingle Bells en ‘n Oukersaandnagereg wat soos sneeu lyk: dis my tafeltradisie. Ek doen báie moeite. As dit nie ‘n Kerskrans van pavlova is, of ‘n meringue-en nektarien trifle met brandewynvla is nie, trek ek Jamie se Krismiskookboek nader vir hierdie banoffeetert Alaska. Hoop net beurtkrag werk vanjaar saam want dis regtig spesiaal vir ‘n feesete. Ek het juis twee Kersfeeste na mekaar met die familie gemis.

As Eskom nie gaan saamwerk nie, en die banoffee- belustigheid neem oor maak ek die veel eenvoudiger Banoffee-trifle met toffie skerwe. Die toffie skerwe maak ek voor die tyd en die res is uit pakkies en blikkies.

My ma Inez het in die sewentigerjare ‘n yskastert van gekookte kondensmelk, vars piesangs, koekiekrummel-kors en geklitste room. My broer Theo was mal daaroor – heerlik as jy nie skrik vir soet nie. Ek sou later jare eers uitvind dit word Banoffee-tert genoem (banana + toffie = banoffie)

Ek omskep die retro gunsteling in iets selfs meer feestelik en dramaties met tuisgemaakte toffieskerwe wat soos brandskilderglas lyk.

Banoffee- en toffieglas trifle

Genoeg vir 4-6 mense

 Trifle  

  • 90 ml (6 E) botter, gesmelt
  • 4 piesangs, in skyfies
  • Omtrent 10 sjokolade of karamel gedoopte “digestive biscuits”
  • 375 ml (1½ houers) vars room, verkoel en geklits
  • 1 blik karamel kondensmelk

Smelt botter en laat afkoel. Rol beskuitjies fyn en voeg by die gesmelte botter. Die trifle kan in een groot glasbak of in individuele bakkies voorgesit word. Pak ‘n laag krummels, gesnyde piesang, karamel en endig met styfgeklopte room. Steek die skerwe toffieglas deur die roomlaag.

Toffieglas

  • 125 ml (110g) strooisuiker
  • 30 ml Demarara-suiker*

Verhit oond tot 180⁰C. Om die toffieglas te maak, sprinkel strooisuiker op ‘n bakplaat uitgevoer met kleefvrye bakpapier. Sprinkel die Demararasuiker bo-oor en bak vir 25-30 minute tot die suiker gesmelt het. Laat afkoel. Breek in skerwe.

* Demararasuiker is goudkleurige suiker met ‘n ryk molasse geur. Gebruik enige geelsuiker of bruinsuiker.

Banoffeetert Alaska met souttoffiestroopz

150 g botter (koud), plus ekstra vir smeer

* 1 lemoen

* 200 g koekmeel, plus ekstra vir strooi

* 100 g gemaalde amandels

* 6 groot eiers

* 1 x 500 g-houer vanieljeroomys van goeie gehalte

* 60 ml gekookte kondensmelk

* 300 g strooisuiker

* 2 ryp piesangs

* 1 lemmetjie

* 15 ml koffiestroop* (of maak jou eie gesoute toffie sous, my resep onder.

1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n diep, 25 cm-losboom tertpan liggies.

2. Om die deeg te maak, rasper die lemoenskil fyn in ‘n voedselverwerker, voeg die koue botter, die meel, amandels en 1 eier by, blits dan tot dit bymekaarkom in ‘n bol, draai in kleefplastiek toe en verkoel vir 30 minute .

3. Rol uit op ‘n skoon meelbestrooide oppervlak tot net minder as ½ cm dik, rol dan losweg oor die koekroller op en rol oor die tertpan af, laat dit insak en druk dit versigtig aan die kante in.

4. Sny enige oortollige deeg af, lap gaatjies toe, prik die basis met ‘n vurk, bedek en verkoel vir 30 minute.

5. Na 30 minute, voer die deegkors uit met kwaliteit kleefplastiek (nie-PVC), vul dan met rys, maak seker jy vul dit gelyk met die kante.

6. Bak blind vir 15 minute, verwyder die kleefplastiek en rys en bak vir nog 5 minute, of tot liggies goudbruin, laat dan afkoel. Laat die roomys sag word in die yskas.

7. Sodra die deegkors afgekoel is, smeer die karamel oor die basis, skep die roomys oor en vries tot hard – jy kan dit ‘n dag voor die tyd tot op hierdie stadium kry.

8. Draai die oond op tot 220°C.

9. Om jou meringue-bolaag te maak, skei die oorblywende 5 eiers (hou die gele vir nog ‘n dag). Klits die eierwitte met ‘n knippie seesout in ‘n vrystaande menger totdat dit sagte punte vorm.

10. Plaas die suiker en 80ml water in ‘n pan op ‘n hoë hitte. Gebruik ‘n suikertermometer om te monitor dat dit 110°C bereik, en verlaag dan die temperatuur tot laag. Laat dit liggies borrel totdat dit tot 120°C kom.

11. Verwyder van die hitte en laat die borrels vir 30 sekondes tot ruste kom, gooi dit dan baie geleidelik in die eierwitte, terwyl jy aanhoudend op ‘n lae spoed klits. Laat dit vir 10 minute klits om af te koel en die mengsel verdik.

12. Skil en sny intussen die piesangs, rasper die lemmetjieskil oor en druk die sap oor die piesang uit.

13. Haal tert uit die vrieskas, rangskik die piesangs oor die roomys, stapel dan die meringue in mooi punte op.

14. Drup die koffiestroop met ‘n vurk se tande oor. Bak onder in die oond vir net 4 minute, of totdat die meringue liggies goudbruin is, en die roomys binne-in gevries bly. Haal uit die tertpan, en bedien in snye.

Sout toffiesous: (vir oordrup, of om oor pavlova of appeltert en roomys te giet)

125 ml koue water

330 g strooisuiker

250 ml vars klitsroom (nie lae vet nie)

Goeie seesout

Sit suiker en water in medium kastrol. Laat stadig warm word tot die suiker gesmelt het. Verhoog die hitte na medium tot dit opkook, sonder om te roer.  Nou en dan trek jy net so ‘n haal deur die mengsel sonder om te roer. Laat dit sowat 15-20 kook tot amber-bruin. Te bruin en dit raak bitter.

Hou ‘n kwassie byderhand. Doop dit in water en verf die wande van die kastrol om te keer dat die suiker kristalliseer. Sodra die karamel die regte bruin skakering het, haal van die plaat af en klits die room in. Wees versigtig want die gesmelte suiker kan jou lelik seermaak. Moet beslis nie die rand met jou vinger aflek nie!

Laat afkoel, voeg sout na smaak by en sit in flessie tot benodig.

Foto’s Ian Du Toit.

Kardamom- en brandewyn-appelkoek

10 Des

Daar is geure en geregte wat sulke goeie herfsambassadeurs is … appels, speserye, die blomgeure van goeie brandewyn. Ek was egter glad nie bereid om ‘n hele seisoen om te wens sodat die tyd reg is om hierdie appelkoek te bak nie. Ek dink tog die spesery en brandewyngeure is baie tuis in die Kersseisoen.

Die Kardamom- en brandewyn-appelkoek lyk juis só feestelik met sy mooie bakpapierkraag en gietysternes.

Ek het dit raakgesien in Cook Beautiful van Athena Calderone wat ek op my Kindle afgelaai het vir ‘eendag op ‘n reëndag’. Sy gebruik konjak – ek gebruik egter sonder huiwering ons wêreldklas potketelbrandewyn.

Kardamom- en brandewyn-appelkoek

125 g koekmeel

5 ml bakpoeier

5 ml kardemom

1 ml sout

2 eiers

150 g suiker

45 ml brandewyn

5 ml vanielje-essens

75 ml karringmelk, goedgeskud en teen kamertemperatuur

3 appels

115 g botter, gesmelt en afgekoel + ekstra om die pan te smeer

15 ml ligte bruinsuiker

Versiersuiker vir oorsif

Room of roomys of crème fraiche vir bediening

Voorverhit die oond tot 180 C. Voer ‘n gietysterpan (20-23 cm deursnit) lossies uit met bakpapier en smeer die papier.

Sif die meel, bakpoeier, kardemom en sout saam in ‘n bak. In ‘n groter mengbak klits die eiers tot skuimerig. Klits die suiker, brandewyn en vanielje-essens by. Klits nou die karringmelk by.

Skil 2 1/2 appels, verwyder die pitte en sny in blokkies. Sny die orige halwe appel in dun skyfies.

Voeg nou die helfte van die koekmeel by die eiermengsel en roer deur tot net deurgemeng, roer die helfte van die gesmelte botter by. Roer die orige meel by tot net gemeng en dan die orige gesmelte botter. Vou die appelblokkies liggies deur die beslag. (Hou die skyfies eers terug).

Skep die beslag in die pan en rangskik die appelskywe in ‘n sirkel bo-op. Sprinkel die bruinsuiker oor. Bak 55 minute of bietjie langer tot mooi diep goudbruin en ‘n toetspen skoon uitkom.

Laat die koek vir 5 minute in die pan op ‘n draadrak afkoel. Bedien dit louwarm of afgekoel in die pan of keer dit uit. Sif versiersuiker oor. Geniet dit met room of roomys (héérlik met rum en rosyneroomys) of crème fraiche.

Stilering en fotografie: Ian en Errieda Du Toit