Archive | Junie, 2015

Besoek aan The Kitchen, Woodstock

26 Jun

Wanneer laas het my by ‘n eetplek ingestap en totaal verlief geraak? Sommer al op ‘n wasgoedlyn vol outydse teemussies.

Love at first sight vir my was The Kitchen in Woodstock. Lankal ‘n bewonderaar van Karen Dudley se kookboeke, het sy in lewende lywe en die warm happiness van The Kitchen my oorrompel. Sy het vir Ian ‘n Love Sandwich aangebied en vir my die lekkerste bord slaaie – Ottolenghi sal mal wees oor haar kos. Die plekkie is uniek in karakter, met soos die omgewing. Nie ‘n enkele gram pretensie nie. Ek is so bly dis ‘n stukkie Kaap wat Michelle Onama ‘n paar jaar gelede kom ervaar, al het sy my voorgespring.

Grepies van 'n kuier by The Kitchen, Sir Lowrey Weg,  Woodstock.

Grepies van ‘n kuier by The Kitchen, Sir Lowrey Weg, Woodstock.

image image image image image image image image image image image image

MARTJIE SE SPRIETUI ROOMKAAS MUFFINS

24 Jun

Die groot neiging deesdae is om twee gevestigde gebak met mekaar te kruis – so het die cronut ontstaan en ‘n rits ander ‘hybrids’ het gevolg. . Eers was daar die skon en die muffin, nou is daar die scruffin. Donut + muffin  = duffin. Muffin + wafel = muffle. Ek het selfs gehoor van croissant + gekruis met ‘n kleinkoek. Dan kry jy die kroekie.

Roomkaasmuffins met 'n sagte hart

Roomkaasmuffins met ‘n sagte hart

Die bakneiging is ook om algemene bestanddele te gebruik om iets onverwags te skep. En dit is wat ek verkies – iets soos hierdie ontbytmuffin warm uit die oond, met sy sagte, smeltende hart van roomkaas. aaa drie muffins en sousie in pan mooi

MARTJIE SE SPRIETUI ROOMKAAS MUFFINS 

Martjie Malan van Koekedoor-faam het die muffin-resep ontwikkel vir ‘n funksie wat ek gereël het vir die bekendstelling van Parmalat se nuwe laevet-roomkaas.

Maak 6 groot en 12 standaard muffins

1 E olyfolie

1 klein ui, fyngekap

2 toontjies knoffel, fyngekap

2 houers Parmalat laevet roomkaas (Sprietui-geur), kamertemperatuur

3 eiers

1 k koekmeel

1 t sout

Varsgemaalde peper

10 ml bakpoeier

2 vars sprietuie, fyngesny

Metode

  • Voorverhit oond na 180°C. Smeer of spuit muffinpannetjies.
  • Verhit olie in ‘n pan oor matige hitte. Voeg die uie en knoffel by en braai liggies tot sag en baie ligbruin. Hou eenkant.
  • In ‘n mengbak groot genoeg vir al die bestanddele, roer 1 houer roomkaas (230g) deur tot sag en glad, voeg die eiers by en klits met ‘n ballonklitser glad. Voeg die meel, sout, peper en bakpoeier by tot net gemeng. Voeg die gebraaide uiemengsel sagkens by om net te meng, want jy wil nie dit oorroer nie.
  • Vul die holtes van die muffinpannetjie met papierkoppies en maak twee-derdes vol. Skep opgehoopte teelepel van die roomkaas op elke muffin en laat dit insink in die beslag. (ek maak holtetjie met lepel se agterkant).
  • Bak groter muffins 25-30 minute en standaard muffins 20-25 minute.
  • Keer uit op draadraak en laat effe afkoel voor bediening.aaa bestanddele

Oud en nuut in die koekieblik: internetkoekies, outydse soetkoekies en gemmer-kaneelkoekies met witsjokolade

10 Jun

’n Vol koekblik is ’n wonderlike ding. Dis bêreplek vir ouma se koekies, vakansiekoekies en dominee-kom-kuierkoekies. Selfs al is die blik leeg, dra dit die herinneringe van bruinsuiker en goue stroop, van gemmerkoekies, rotskoekies, anyskoekies, soentjies en skurwejantjies.

Ek bak graag  in die winter gemmerkoekies, gedruk in witsjokolade, vir die koekieblik.

Ek bak graag in die winter gemmerkoekies, gedruk in witsjokolade, vir die koekieblik.

Koekies het hul eie magic. Mens hoef net ‘n soetkoekie in ‘n glas melk te druk om weer kind te voel, of ‘n gemmerkoekie in warm tee te doop om gekoester te voel. ‘n Ou vriend van my, Coenie Meyer (bless his soul, het my die grootmenslekkerte geleer om Gingersnaps in goeie whisky te doop – ‘n uitstekende warmwatersak as die winterkoue jou vingers laat krom trek en die wind jou tande laat klap.

Dis egter nie net ou familiegunstelinge wat die koekblikke vol maak nie; nuwerwetse weergawes wat ‘n spieël van ons tyd is, soos die internetkoekie, maak ook sy buiging.

Mareli Visser, Koekedoor-wenner is van Douglas met haar koekblik op die Koekedoorstel.

Mareli Visser, Koekedoor-wenner is van Douglas met haar koekblik op die Koekedoorstel.

{Die hede}

INTERNETKOEKIES

Internetkoekies was een van die nuwe-generasie kleinkoekies wat sy verskyning op Koekedoor, die Afrikaanse bakkompetisie gemaak het. Mareli Visser, Koekedoor-wenner het hierdie koekie gebak in die episode “See toe.”  Dis só ‘n lekker kleinkoekie, met só ‘n lekker storie dat dit in die Koekedoor Bakboek** opgeneem is om die bakkompetisie te herdenk.

Die internetkoekie het sy naam te danke aan ‘n metro-mite wat jare al op sosiale media gesirkuleer word om wraak te neem op Neiman Marcus, ‘n luukse afdelingswinkel in die VSA wat kwansuis ‘n fortuin gevra het vir die resep.

Die storie loop so: Iemand se tannie het iewers by ‘n deftige eetplek koek geëet wat so lekker was dat sy die resep gevra het. Dit kos haar toe ‘n yslike klomp geld en nou neem sy wraak deur die resep met die hele wêreld te deel. Al word dit nou die internetkoekie genoem, word ‘n soortgelyke storie al sedert 1948 oorvertel. Toe was dit kwansuis ‘n rooifluweel-fudgekoek se resep waarvoor die Waldorf Astoria Hotel ‘n absurde bedrag gevra het.

Mareli se weergawe van die mitiese koekies is taaierig binne en bros buite.

Die resep vir Internetkoekies is in die aanlyn-era net 'n muiskliek weg - gratis op die internet. Hierdie een is egter deeglik getoets in die bakstryd wat van Mareli Visser 'n wenner gemaak het.

Die resep vir Internetkoekies is in die aanlyn-era net ‘n muiskliek weg – gratis op die internet. Hierdie een is egter deeglik getoets in die bakstryd wat van Mareli Visser ‘n wenner gemaak het.

RESEP: MARELI SE INTERNETKOEKIES

Lewer sowat 40 koekies.

Bestanddele:

  • 150 g hawermout
  • 250 g botter
  • 225 g witsuiker
  • 225 g bruinsuiker
  • 2 eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 295 g koekmeelblom
  • 5 ml koeksoda
  • 2.5 ml sout
  • 5 ml bakpoeier
  • 250 g sjokolade, gerasper
  • 340 g sjokoladesplinters
  • 200 g gekapte neute

Metode:

  • Voorverhit oond tot 180°C. Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit.
  • Kap die hawermout fyn in ‘n voedselverwerker tot ‘n fyn poeier.
  • Room die botter en beide suikers.
  • Voeg eiers en vanieljegeursel by, meng met die meel, fyngekapte hawer, sout, bakpoeier en koeksoda.
  • Voeg die sjokoladesplinters, gerasperde sjokolade en neute by.
  • Rol in balletjies en plaas sowat 5 cm uitmekaar op ‘n bakplaat met bakpapier.
  • Bak vir 10 minute teen 180° C.

    Gemmer-kaneelkoekies in witjsokolade gedoop vul die huis met warm geure.

    Gemmer-kaneelkoekies in witjsokolade gedoop vul die huis met warm geure.

{My gunsteling-winterkoekies}

GEMMER-KANEELKOEKIES MET WITSJOKOLADE

Ek het voorheen oor hierdie koekies geskryf – maar as jy weet dat dit naas madeleines my gunsteling koekies is om te bak, en hoe die speserygeure die koue uit ‘n winterhuis verdryf sal jy verstaan hoekom ek weer die resep deel.  Dis ‘n welkome ritueel – koekiedeeg aanmaak, dan bolletjies rol in die palm van die hand, die rol in die suiker en die platdruk met die vurk. Die koekiegeure is terapie gehul in troostende kaneel en gemmer. Net bietjie geduld tot dit afkoel dan word dit in die gesmelte sjokolade gedoop.

RESEP: GEMMER-KANEELKOEKIES IN WITSJOKOLADE GEDOOP

Maak 60 koekies

Bestanddele

  • 2 k suiker
  • 1 1/2 k sonneblom- of canola olie
  • 2 eiers
  • 1/2 k molasse
  • 4  k koekmeel
  • 1 E fyn gemmer
  • 1/2 t varsgerasperde neutmuskaat
  • Mespunt fyn witpeper
  • 1 t sout
  • 4 t bakpoeier
  • 2 t fyn kaneel
  • Suiker, vir rol
  • Doopsel: genoeg om sowat 40 koekies halfpad te doop
  • 200 g witsjokolade, in stukkies
  • 1 E  smeer soos Holsum (nie botter of margarien nie)

Metode

  • Verhit oond tot 180°C. Voer bakplate met bakpapier uit. Meng die suiker en olie goed saam in ‘n groot mengbak. Voeg die eiers beurtelings by en meng goed deur na elke byvoegsel. Meng molasse by.
  • Gebruik ‘n aparte mengbak en sif die droë bestanddele saam; en meng dit geleidelik by die eier-suikermengsel in tot goed ingewerk.
  • Vorm okkerneut-grootte balletjies met die handpalm en rol dit in die suiker. Plaas op die bakplaat met 5 cm spasies tussenin. Bak sowat 12-15 min tot goudbruin. Die koekies moenie bleek wees nie. Dit sal nog sag wees wanneer dit uit die oond uitkom. Plaas op afkoelrak.
  • Doopsel: smelt sjokolade en die Holsum oor lae hitte in ‘n dubbelkoker. Moenie ‘n deksel opsit of stoom laat inkom nie. Roer deurentyd tot gesmelt. Doop die koekies halfpad in die sjokolade, laat oortollige sjokolade afdrup en plaas op afkoelrak of op waspapier tot sjokolade gestol het.

    Koekies bak is 'n strelende ritueel van aanmaak,rol, uitrol, platdruk, bak - dan geduld vir die afkoel. Daarna die lekker van die versiering.

    Koekies bak is ‘n strelende ritueel van aanmaak,rol, uitrol, platdruk, bak – dan geduld vir die afkoel. Daarna die lekker van die versiering.

 {Die verre verlede}

Outydse soetkoekies

Van al die kleinkoekies in ons gebak-skatkis, is die outydse soetkoekie die kosbaarste, Die ideale soetkoekie is ‘n verfynde dame, superdun en bros. ‘n Opregte outydse soetkoekie bevat speserye, varkvet, botter en soetwyn soos hanepoot, muskadel, jerepigo of port.  Die lekkerste was sekerlik my ouma Gerrieda s’n, die mooiste-en-lekkerste is gewis Hetta van Deventer-Terblanche s’n. Haar resep is ingesluit in die eerste Kokkedoor-resepteboek.

Bestanddele

  • 480 g (4 k) koekmeel
  • 2,5 ml ( ½ t) sout
  • 5 ml (1 t) fyn kaneel
  • 5 ml (1 t) kruienaeltjies
  • 5 ml (1t) fyn gemmer
  • 375 ml (1 ½ k) suiker
  • 230 g botter
  • 60 ml vet
  • 5 ml (1t) koeksoda
  • 15 ml (1 e) louwarm water
  • 30 ml (2 e) muskadel of soetwyn
  • 1 eier, geklits

Metode

  • Sif meel, sout en speserye saam en voeg die suiker by. Vryf die botter en met met die vingerpunte in die meelmengsel.
  • Los die koeksoda in die louwarm water op en roer die muskadel of soetwyn by. Voeg die koeksodamengsel by die geklitse eier.
  • Voeg die eiermengsel by die meelmengsel en meng tot ‘n stywe deeg vorm. Knie om goed te meng. Laat rus die deeg oornag in die yskas.
  • Voorverhit oond tot 200 °C. Smeer bakplate goed.
  • Rol die deeg tussen 2 lae plastiek tot ‘n dikte van 3-5 mm uit. Sny deeg in 8 cm-vierkante of druk vorms met ‘n koekiedrukker uit. Plaas dit op die bakplate en bak 10-15 minute.

**Koekedoor Bakboek

Ek is ‘n baie bevoorregte mens om deel van Koekedoor te wees as inhoudsvervaardiger: kos van die televisiereeks, en as skrywer van die Koekedoor Bakboek wat 20 Julie op die rak sal wees. Die boek bevat 80 resepte van die kompetisie se hoogtepunte met ‘n wye spektrum begeerlike kleingebak, groot koeke en brode. Jy gaan ver soek om nog so ‘n manjifieke versameling resepte elders te kry.

Human & Rousseau is die uitgewers, Die fotograaf is Myburgh Du Plessis, Caro Alberts het die smulmooi stilering gedoen en Christine Capendale (van ‘Bak vir Pret en Profyt’-faam) het gebak en resepte getoets. Die boek sal te koop wees teen R270.

Resep en foto van internetkoekie: Koekedoor Bak, Human & Rousseau. Fotograaf: Myburgh Du Plessis.

Resep: Outydse soetkoekies, Kokkedoor. Human & Rousseau.

Ian se Huweliksformulier Hoendersop

3 Jun

n Storie van griep, liefde en ‘ in-siekte-en-gesondheid’ hoendersop

Ine een van ons troufotos is geraam nie, maar die huweliksformulier-hoendersop kry 'n raam om.

Nie een van ons troufotos is geraam nie, maar Ian se huweliksformulier-hoendersop kry ‘n ereraam.

 Dis winter, en die mense word een na die ander platgetrek deur ‘n nare griep. Ek is die eerste pasiënt in ons huishouding. So ellendig en jammer vir myself, dat my man Ian besef hy sal moet inspring en die TLC mildelik uitdeel saam met die bruistablette en arsenaal ander medisyne.

Hy het selfs gaan inkopies doen (sy pet-hate), nie net vir Vicks en sneesdoekies nie, maar vir alles wat hy sou nodig kry om ‘n behoorlike ‘penisillien-hoendersop’ te maak. Hy’t selfs ons volgraan-vrybrood gebak wat 35 jaar gelede die liefde tussen ons beklink het. Die hele Saterdagmiddag wat ek onder dik komberse koud, dan warm kry, hoor ek die kookklanke uit die kombuis uit. Ek weet nie wat daar gaan uitkom nie, want hy het nog nooit self sop gemaak nie, wat nog te praat van sop vir ‘n kranke. Later die middag word die sop aangedra. Terwyl ons eet is die kontras tussen ons groot: hy die toonbeeld van sterkte en gesondheid in sy mooi grys trui; ek met rooi neus en flannel pajamas. Ek sê: ‘die toneeltjie is nou so uit ons huweliksgebooie… In sickness and health.’ ‘Staan dit daar?’, vra hy. Ek lag tussen die kug deur. Al onthou hy nie woorde van die huweliksformulier nie, leef hy elke komma en punt van sy ‘I do’ met sop en brood uit.

Ian doen voorbereidings vir die tweede hot & sour variasie

Ian doen voorbereidings vir die tweede hot & sour variasie

Ian se Huweliksformulier Hoendersop Ian het sy  resep dikteer vir hierdie storie, ek het neergeskryf… ‘n heerlike eerste in ons huwelik.  Bestanddele  

  • 1 medium na kleinerige heel hoender
  • Bietjie olie (so ‘n glug-glug sê hy)
  • 2 groot of 3 medium uie, opgekap
  • 2 preie, goed gewas en in ringe gesny
  • 125 g sampioene, afgevee en in skyfies  gesny
  • 3 vet knoffelhuisies, gerasper
  • Stuk gemmer so groot soos jou duim, in vuurhoutjies gesny
  • 1-2 rooi brandrissies, ontpit en opgekap (as jy dit baie warm soek, hou meer van die saadhuis in)
  • Groot bos sopseldery, gekap (hou 1/4 hiervan  apart)
  • 1 bossie sprietuie (sowat 5 stingels) in ringetjies gesny
  • Sout en witpeper
  • Bossie  pietersielie, gekap (hou 1/4 apart)
  • 2 groot geelwortels, geskil en in vuurhoutjies of ringetjies gesny
  • 2 hoender blokkies, opgelos in 250 ml kookwater
  • 2.5 l kookwater
  • 15 ml heuning
  • 30 ml sojasous
  • 10 ml borriepoeier of duimgrootte vars borrie, geskil én gerasper
  • 4 eetlepels rysasyn (kan met sap van 1 suurlemoen vervang word)

Metode Verhit olie in groot kastrol. Verbruin hoender beide kante. Voeg uie, preie, sprietuie en sampioene by en braai sowat 5 minute saam. Voeg rissie en knoffel by en braai 1 minuut.  Voeg wortels, ¾  van die pietersielie en ¾ van die sopseldery by.  Bedek met die kookwater, gooi aangemaakte hoenderaftreksel by, plaas deksel op en prut minstens 60 minute tot hoender afval van die been (draai 2 keer om tydens die kookproses). Haal hoender uit, pluis van die been af en voeg die vel ook by. Verwyder alle bene en oppas vir fyn beentjies. Sny groter stukke vleis in kleiner happiegrootte en plaas die vleis terug in die kastrol. Voeg heuning, sojasou, borrie en rysasyn by, prut nog 20 minute. Proe en geur na smaak. Roer die orige pietersielie en sopseldery by.

Hitsig en in harmonie met die suur - die bekende hoendersop raak onder Ian se hand liefdesdoepa.

Hitsig en in harmonie met die suur – die bekende hoendersop raak onder Ian se hand liefdesdoepa.

Voetnota: Ian maal altyd peperkorrel self in ‘n stamper en ‘n vysel. Dit laat hom vir hierdie sop waarlik soos ‘n apteker voel. Die medisinale waarde van hoendersop blyk nie net ‘n duisende jare ouvroustorie en kwaksalwery te wees nie. Navorsers neem die onderwerp al hoe ernstiger op, met studies wat aandui dat hoendersop wel verligting van verkouesimptome teweeg bring. Dit werk klaarblyklik in op die neus, wat kongestie verlig. Dit aktiveer selfs die fyn haartjies in die neus wat daartoe bydra dat mens tot ‘n halfuur na ‘n hoendersopmaaltyd verligting van toe-neus en gebloktheid kan ervaar. En dan voel jy sommer beter. Daarmee saam kry mens ook vloeistof in, en meer voedingstowwe. Ek eet beslis eerder ‘n bakkie hoendersop voordat ek neussproei gebruik. Veral as dit Ian se sop is.