Archive | April, 2017

Lamsvleis lieslapsop met gebraaide tortillarepe

26 Apr

Nee, nie loslappie nie…Lieslappie!

Lieslap is nie juis ‘n poëtiese naam vir ‘n lamsvleissnit nie. Onder aanmoediging van die bedagsame, geduldige huiskok is lieslap tot baie in staat is – sommige sal glo dit oortref duurder, deftiger snitte.

lieslap sop Edit-1305

“Ek moet bieg, ek staan altyd weerloos, skaamteloos en roekeloos voor ‘n stukkie lieslap” vertel Diana Ferreira, pottebakker en entoesiastiese eter.

Haar kommentaar som die reaksie op van my kosvriende se lieslappraatjies op Facebook. Deur hulle win ek meer as veertig maniere om dit gaar te maak.

Lieslap laat baie dinge met hom doen: in blokkies gesny en uitgebraai tot kaiings om saam met varsgebakte brood en appelkooskonfyt te eet. Of om soos staanrib of skaapstertjies langsaam bros-kraak gebraai te word by die braaikole, net met sout, peper en suurlemoen. Koljander en Worcestershiresous opsioneel.

Wat sê ander lieslappers:

Al hoe meer gerekende stemme uit kulinêre kringe sien lamslieslap as die nuwe ‘pork belly’. (Pork belly is juis varklies- en ribbetjie in Afrikaans).

Sjef Almay Jordaan laat weet uit Melbourne dat sy blokkies lieslap stadig kook in ‘n soetsuur tamatiesous. “Met gnocchi en parmesaan daarby is dit die beste naweek-aand aan-die-slaapraak maaltyd.” Haar raad egter:  laat staan die lieslap bredie oornag sodat die meeste vet afgeskep (gebruik vet vir ‘n ander dis, natuurlik) , anders is dit ‘n gal-aanval wat wag.”

Ook die epikuur Marlene van der Westhuizen, aanbieder van ‘Van Skaapstert tot Camembert’ praat saam. Sy Sit die lieslap heel in ‘n pot met witwyn. Daarby gekapte ui, sout en witpeper. Ook hoenderaftreksel, gekapte groenbone en klein aartappeltjies. Wanneer die lappie murgsag is word dit in happies gesny en teruggeroer in die bredie. “Salig met ‘n glas Pinot noir.”

(Proe aan nog lieslapper-idees onder toe)

LAPSOP  (Lieslap-lensiesop met gebraaide tortillarepe)

Die ding van lieslap is dat dit met geduld van jou kant af rafelsag kook vir bredie of sop. Die bindweefsel smelt behoorlik saam met die vetjies en transformeer die aftreksel in ‘n diep-behaaglike brousel.

Vandat vriendin Nelia Viviers na lieslap as soplap verwys het, bly ‘n lapsop by my spook. Toe ek onlangs vir Piet Marais en Frik Oosthuizen van Santa Anna’s-faam ontmoet en die manne se tortillas proe kom die antwoord: Tortillasop met gepluiste lieslap eerder as gepluiste hoender soos die Mexikane dit maak.

  • 45 ml olyfolie
  • 1 lieslap, in 4 kleiner stukke gesny
  • 2 medium uie, fyn gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 2 vars brandrissies, fyn gesny
  • 5 ml rooipeper
  • 10 ml gemaalde komyn
  • 2 lourierblare
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1 liter vleisaftreksel
  • 1 blik rooi nierbone, afgespoel
  • 375 ml gaar lensies
  • Sout en peper
  • 1 bossie vars koljander, gekap
  • Gebraaide tortillarepe
  • Verskeidenheid smaaktooisels soos gerasperde kaas, suurroom, vars koljanderblare, tamatie- en uie-salsa, avokado.

Verhit olie in ‘n sopkastrol en braai vleis goudbruin. Voeg uie, knoffel, rissies, rooipeper en komyn by en soteer.

Gooi aftreksel, lourierblare en tamaties by, prut tot vleis baie sag is. Maak intussen die gebraaide tortillarepe.) Voeg die gekookte lensies en nierbone by, prut nog 30 minute. Pluis liesvleis en gooi terug in die sop. Proe en geur. (Maak intussen die gebraaide tortilla-repies).

Roer vars koljander by, skep in bakkies, plaas gebraaide tortillarepe en smaaktooisels bo-op.

Gebraaide tortilla-repe

  • 15 ml kookolie
  • 2 tot 3 sagte tortillas, verkieslik Santa Anna’s

Sny tortillas in dun stroke. Verhit olie in ‘n pannetjie oor matig-hoë hitte en braai stroke in enkellaag. Draai om na 30 sekondes en braai ander kant. (Dit word bros wanneer dit afkoel). Dreineer op kombuispapier.

Kookkos-ikoon Tannie Poppie Coetzer sny dit op en kook dit met stampmielies tot papsag. en eet dit met braaikool.

Mede-lapliefhebbers Christo de Beer tru eers ‘n stap terug voor hy dit oond toe vat. Hy vee dit met asyn af, strooi growwe sout oor en laat dit eers ‘n week onder ‘n net in ‘n koel plek hang.

‘Hoekom nie lieslap kombineer met bacon nie, siende dat die Hollanders na bacon verwys as speklappies, stel Pieter du Toit van Cederberg Wyne voor.

Ander weer bak dit oornag in ‘n oondpan met dik uieskywe, knoffel, olyfolie en bietjie growwesout en swartpeper, toegemaak met foelie. Oond so 90°C.

Met slappap, uiekonfyt en tamatieslaai is dit Ena Bester Posthumus se koningskos. “Sny dit in klein blokkies, vryf in met asyn, koljander, fyn naeltjies, sout en growwe peper, pak in oondbak met ‘n klein bietjie water. Bak met die deksel op tot sag. Strooi bietjie bruinsuiker oor en bak sonder deksel tot kraakbruin en vog weggekook is.

  • Kyk uit vir my volgende kosstorie waar ek die resep gee vir gestoofde lieslappies opgerol in Medittereense smake. 
  • Besoek www.delico.co.za vir Delico se aanlynbestellings en afsetpunte in Riebeek-Kasteel en Klapmuts.
  • Resepte en foto’s: Errieda en Ian du Toit

Gebraaide sojasous-rys, lemmetjierys in die drukpot en deksels-lekker vark daarby

19 Apr

Die heelal rus in ‘n korreltjie rys.

 Rys is gróót in my lewe: rys-en-vleis, kedgeree, breyani, geelrys by die bobotie, basaar-kerrie-en-rys, rys-en-bone en my ma se tamatie-rooirys is deel van my identiteit.

IMG_0154

In ‘n korreltjie rys lê goedvoelkos vir verlangendes, feeskos en confetti vir die trouendes en begrafnisrys vir die roubeklaers. Rys is stapelvoedsel en kultuurverteller.

Geniet die vars nuwe maniere om jou kosbakkie te vul met rys en vleis, soos lemmetjierys en peer-gemarineerde stukkies varkblad wat jy roerbraai.

IMG_0153

IMG_0155

Gebraaide sojasous met sensasionele yum-yumsous 

Eet dit met bros sout-en-peper varkblokkies.

Vir die rys

Sojasousmengsel:

  • 10 ml vissous
  • 30 ml donker sojasous
  • 30 ml ligte sojasous
  • 10 ml Chinese kookwyn Shaoxing of droë sjerrie
  • 5 ml suiker
  • 5 ml canola-olie
  • 5 ml oestersous
  • Vir die gebraaide rys:
  • 3 eiers, geklits
  • 5 ml Chinese kookwyn Shaoxing , of droë sjerrie
  • sout, na smaak
  • 45 ml olie, verdeel
  • 6 koppies gaar langkorrelrys, afgekoel
  • 3 slaaiuie, gekerf
  • Sojasous mengsel (resep bo)

Maak eerstens die sojasous-mengsel: Plaas al die sousbestanddele in ‘n kastrolletjie oor matige hitte en roer om suiker op te los. Bring tot kookpunt en draai die hitte af. Hou eenkant.

Voeg 5 ml kookwyn en ‘n knippie sout by die geklitste eier. Verhit 15 ml olie in ‘n wok of braaipan oor hoë hitte. Maak die roereiers en roer met ‘n vurk om op te breek. Skep uit en hou eenkant.

Verminder die hitte. Verhit 30 ml olie in die wok, voeg die rys by en roerbraai tot regdeur warm. Voeg die sojasous-mengsel en die gaar roereier by, roer tot goed gemeng. Gooi gekapte slaaiuie by, roer deur.

Skep die sojasousrys in ‘n bakkie met yum-yum-sous, bros sout-en-peper varkblokkies, gerasperde wortel, slaaiblare, kruie en suurlemoenskyfies. Bedien gekapte brandrissie apart. .

Yum-yum-sous

Yum-yumsous is ‘n heerlike doopsous, gemaak met ‘n mayonnaise-basis en alledaagse bestanddele, wat baie gewild is in Japanese hibachi (braai) restaurante. Dis nog lekkerder as dit oornag staan.

  • 250 ml mayonnaise
  • 15 ml sagte botter
  • 5 ml tamatiepasta (nie tamatiesous nie)
  • 5 ml suiker
  • 5 ml speserymengsel (paprika, cayenne en knoffelsout; of braaispeserye)
  • 2,5 ml droë mosterpoeier
  • sout na smaak
  • 15 – 30 ml water

Voeg al die bestanddele, behalwe die water, in ‘n bakkie en klits tot glad. Voeg water by na gelang hoe loperig jy dit wil hê.

Heerlike vleis vir rysbakkies 

BROS SOUT-EN-PEPER VARKBLOKKIES

Die Sichuan-peper in hierdie resep van Food52 laat die tong te lekker tintel, maar jy kan dit vervang met gewone swartpeper.

Bedien 4 – 6

  • 600 g varkvleis in 1 cm-blokkies (ontbeende varkblad is ideaal)
  • 2,5 ml fyn sout
  • 15 ml swartpeperkorrels
  • 10 ml Sichuan-peperkorrels (vermeerder die swartpeper as jy nie Sichuan-peper het nie)
  • 2,5 ml droë rissievlokkies
  • 15 ml kookolie, soos canola-olie of grondboontjieolie (dit het hoë brandpunt)
  • 5 ml seesoutvlokkies (soos Maldon of Khoisan sout)
  • 125 ml sagte kruie soos vars koljander, kruisement, sprietui of basielkruid
  • 1 vars brandrissie, sade verwyder en gekap
  • Vir bediening: gebraaide-, lemmetjie, of gestoomde rys, doopsous, komkommer, wortelstokkies.

Meng die varkblokkies en fyn sout saam in ‘n bak.

Maal die swart peperkorrels, Sichuan peperkorrels en die rissievlokkies saam in ‘n speseryemeul of stamper en vysel. As jy elektriese meul gebruik, moenie dit te fyn maak nie, jy soek die pepertekstuur. Meng die gemaalde mengsel by die vleis in. Laat staan vir 20 minute by kamertemperatuur.

Verhit ‘n groot swaarboompan (nie kleefvrye soort nie) oor hoë hitte tot baie warm. Gooi die olie by en sodra die olie blinkerig lyk. Voeg die varkblokkies by en strooi soutvlokkies oor. Roerbraai tot die varkblokkies aan alle kante goudbruin is, 5-7 minute. Doen dit in sarsies om te verseker dat die vleis braai en nie begin stoom nie.

Skep vleis in skottel, bedien met kropslaai, komkommers, sojasousrys of lemmetjierys.

TIEN-MINUTE LEMMETJIERYS EN GEMARINEERDE VARK-ROERBRAAI

IMG_0152Ek maak die lemmetjierys chop-chop in ‘n drukkoker. Die geurige rys is ideaal vir die rysbakkie eetstyl, waar minder vleis gebruik word en meer groente. Die gerasperde appel (of peer) in die vleis-marinade werk as ‘n vleisversagter, ‘n metode wat die Koreane inspan vir hul nasionale vleisdis boelgogi (BBQ-vleis).

Vir die lemmetjierys

  • 250 ml Spekko langkorrel witrys
  • 310 ml water
  • 30 ml kookolie
  • 5 ml sout
  • Sap en skil van 2 lemmetjies
  • 45 ml vars gekapte koljander

Voeg rys, water, 15 ml olie en sout in die drukpot. Maak deksel toe en kook 3 minute onder hoë druk, draai die hitte af en laat die stoom vanself vrystel vir 7 minute. Pluis met vurk.

Meng koljander, lemmetjiesap/skil, en 15 ml kookolie in ‘n bak, meng rys by.

Skep die rys in bakkies, bedien met komkommer, geroosterde sesamsaad, boelgogi BBQ-vark-of beesvleis en ‘n rissie-doopsous.

Vir die appel-gemarineerde roerbraai varkvleis

(genoeg vir 4 mense as deel van Koreaanse ete, of twee as hoofdis )

  • 600 g vark, in stukkies gesny vir roerbraai (ek gebruik graag varkblad)
  • 1 Medium ui, in dun skyfies
  • Geroosterde sesamsaad vir oorsprinkel

Marinade

  • 60 ml mirin (soet Japanese ryswyn), of vervang met medium-soet sjerrie
  • 1 geskilde  groen appel (of peer), fyn gerasper
  • 60 ml sojasous
  • 60 ml bruinsuiker
  • 2 slaaiuie , wit en groen dele, fyngekap
  • 15 ml rissiepasta (vra vir Koreaanse gotsjoejang) of gebruik sambal oelek
  • 15 ml fyngerasperde vars gemmer
  • 2-3 knoffelhuisies, fyngerasper
  • 30 ml sesamolie
  • 7,5 ml ryswynasyn of appelasyn
  • Swartgemaalde peper
  • Vir bediening: geroosterde sesamsaad, komkommerskywe en ‘n doopsous van jou keuse.

Meng marinade-bestanddele saam en voeg stukkies vleis by. Laat die vleis minstens 30 minute in die yskas marineer.

Druk vleis droog met kombuispapier.   Verhit ‘n groot swaarboompan oor medium-hoë hitte,  gooi ‘n bietjie canolieolie in en flitsbraai die vleis tot amper gaar (5 – 7 minute), gooi die uie by en braai tot gaar. Skep in bakkies saam met rys, strooi sesamsaad oor en bedien met vars groente en slaaiblare.

  • Kyk ook uit vir die blog-inskrywing vir ryspoedingresep wat met oorskietrys gemaak  word en met gekaramelliseerde pere bedien word.
  • Resepvoorbereiding en stilering: Errieda du Toit
  • Fotograaf: Ian du Toit
  • handmodel: kos vriendin Catherine Eybers

Vrystaat lamskenkel in tamatie- uie en appelsous

4 Apr

Edit-0316 SKENKELS SKUINS

Lamsvleis op die been is lisensie om jou vingers aan tafel af te lek. Dit het ek onlangs weer ontdek in Bloemfontein met ‘n Tuistafel-kuier by die Fynproewersgilde. Die gulhartigheid waarmee gekook word is die deurslaggewende geurmiddel.

Met die eerste hap aan gasvrou Retha Joubert en haar man Willem se tafel kon ek die gasvryheid proe in die bak skaapkneukels wat stadig gaargemaak was in ‘n tuisgemaakte tamatie-, uie- en appelsous.

Dalk was dit die aandlug en die vrolike gekwetter aan tafel van mense met gedeelde belange wat die eenvoudige oondgebak tot versamelstuk verhef het. Of dalk die tafelversierings van oopgebarste granate en kerslig wat  ‘n Renaissance-fees van die ete gemaak het.

Teen die tweede skeppie het ek geweet die resep hoort in die ‘onvergeetlike’ koskategorie met smake wat my herinner aan die bindende krag van saam-eet. Ek het gedreig om nie weer my ry te kry tot sy die resep vir my gegee het nie.

Die geheim is in die sous, verklap Retha. Die Bloemfontein Fynproewers hou almal ‘n fles of twee van die tuisgemaakte tamatiesmoor op gereedheidgrondslag in die yskas.

Edit-9614 TAMATIESOUS IN FLES

Terug by die huis was dit die eerste resep wat ek gemaak het om te wys hoekom ek altyd ‘n geleentheid aangryp om in Bloemfontein te gaan koskuier.  En nee, ‘n kortpad deur geblikte tamatie gaan nie werk nie. Dis die ekstra bietjie toewyding aan varsgemaak wat dit uitsonderlik maak.

Edit-0331 RESIZE GAAR SKENKELSBLOEMFONTEIN LAMSKENKELS IN JOU EIE TAMATIE-, UIE EN APPELSMOOR

Maak sommer ‘n ekstra flessie sous, wat jy ook kan gebruik vir skaapnek, blad of boudtjops.

Bedien 6

  • 1,5 kg skaapkneukels
  • Roosmarynsout (Retha gebruik Ina Paarman s’n; ek het net sout en lourierblare gebruik)

Sous (genoeg vir 1 liter tamatiesous)

  • 6 medium (1.1 kg) tamaties, geskil en fyngekap
  • 2 medium (300 g) uie, fyngekap
  • 2 medium (300 g) appels, geskil, pitte uit, fyngekap
  • 7,5 ml sout
  • 5 ml gerasperde suurlemoenskil
  • 5 ml droë mosterd
  • 5 ml garam masala
  • 30 ml matige kerriepoeier
  • 250 ml bruinsuiker
  • 125 ml asyn
  • 60 ml suurlemoensap
  • 15 ml tamatiepasta

Voeg al die sousbestanddele in ‘n groot kastrol, prut stadig sonder ‘n deksel, roer af en toe tot die mengsel goed dik is, sowat 45 minute. (As jy die warm sous nou in warm gesteriliseerde glashouers skep en onmiddellik seël hou die sous vir 2 maande in die yskas).

Voorverhit oond na 160°C. Plaas die vleis in ‘n bakpan, bedek met die tuisgemaakte tamatiesmoor. Die Bloemfonteiners strooi Ina Paarman se roosmaryn sout oor. (Ek het net sout en lourierblare as geurmiddel gebruik). Maak toe met foelie en bak tot die vleis sag is, 3 – 4 ure. Bedien met kapokaartappels.

Ek het my lamskenkelvleis by Deli-Co gekry, wat dit mooi opgesny het.  Benut Deli-Co se afleweringsdiens vanaf Riebeek Kasteel na ‘n sentrale punt naby jou; of vul jou vleisvoorraad aan by die Deli-Co slaghuis- en padstal by Potbelly, Klapmuts. Vind op www.delico.co.za meer uit.

  • Kosvoorbereiding en stilering: Errieda du Toit
  • Fotografie: Ian du Toit