Tag Archives: cheddar

Die maklikste kaassouffle

13 Sep

Sewe. Dis hoeveel geregte die gemiddelde huiskok in hul repertoire het en keer op keer maak. Dis volgens ‘n Britse verbruikers-ondersoek ‘n paar jaar gelede.

As ek dan net sewe resepte geregte moes kies is hierdie maklike, fieterjasie-vrye super-heerlike kaassouffle beslis op my lys.

Die souffle met sy imposante pofbolaag en eteriese tekstuur breek al die mites oor soufflé as ‘n intimiderende gereg.

⁃ Hier’s geen geskei van die wit en eiergeel nie,

⁃ Geen punterige geklits van die eierwit met al die reëls wat daarmee saamgaan nie.

⁃ Geen aparte invou van die delikate, styfgeklitste eierwit by die bechamelsous nie.

⁃ Dit verg nie eers ‘n spesiale soufflebak met kietsregop kante nie (‘n ovaalbak – sommer Pyrex – skep ‘n groter area vir die begeerlike bruingebakte pofkors.

Die groot bonus van hierdie huisvrou-souffle is dat jy dit vooraf kan aanmaak en met gemak ‘n hele paar ure laat staan voor jy dit bak. Hierdie een op die foto het ek vir 2 ure laat staan tydens Beurtkrag tot ek dit in die oond kom druk. Dit kan ongebak selfs ‘n dag of twee vooraf in die yskas gehou word, en net eers tot kamertemperatuur gebring word voor jy dit bak.

Die soufflé rys dalk nie só flambojant soos die omslagtige sjeffy manier nie, maar dit sak ook nie so dramaties in as dit nie dadelik tafel toe gaan nie, want dis soveel meer stabiel.

Nog ‘n rede dat dit ‘n ereplek in my arsenaal van 7 koswonders het, is dat dit my skaars R50 kos (en dit maak 4 porsies). Met ‘n sny bruinbrood en slaai smul jy sonder om sooibrand te kry oor die kos pryse. (Ek het ekstra groot, vars vryloop plaaseiers deur ‘n buurt-kontak gekry teen R2.50 per eier)

Dis veelsydig ook: wissel die kruie en die kaas af, en voeg gerookte vis of ham by.

Die beloning lê in die neuterige smeltkaasgeure wat deur die huis warrel en die sug van die soufflé met die eerste skep deur die poflaag.

Moeitevrye kaassouffle

Maak 4 porsies 

90 ml botter plus ekstra om pan te smeer

60 ml gerasperde parmesaan-kaas, verdeel

90 ml koekmeel

500 ml volroommelk

2,5 ml sout

2,5 ml vars gemaalde swartpeper

5 ekstra groot (of 6 groot) eiers

650 ml gerasperde cheddar of Gruyere-kaas  plus (opsioneel) drie stukkies kaas in plat ‘teëltjies’ van 5 cm x 7,5 cm vir garnering

45 ml gesnipperde sprietuie

Metode

Voorverhit die oond tot 205 °C. Smeer ‘n ovaal oondvaste gratin bak (inhoudsmaat 1,5 l ) goed met botter en besprinkel die bodem en kante met die helfte van die gerasperde parmesaan. Hou  die orige gerasperde parmesaankaas terug om later oor te strooi.

Smelt die 90 ml botter in ‘n medium kastrol, roer die meel by (ballonklitser werk goed), meng goed deur en laat 10 sekondes kook.

Giet die melk op een slag by en klits energiek, hou aan om te klits tot die mengsel glad en dik is, en begin kook, sowat 2 minute. Haal van die hitte af en voeg die sout en peper by.

Breek die eiers in ‘n bak en klits baie goed met ‘n vurk. Na 10 minute behoort die witsous genoeg afgekoel het. Werk nou vinnig: voeg die geklitste eiers, gerasperde cheddar en gesnipperde sprietuie by die sous in en meng deur. Giet dit in die oondbak. Nou kan jy dit of dadelik bak, of laat staan tot jy dit later wil bak*.

Besprinkel die bokant van die souffle met die orige parmesaankaas, rangskik die drie cheddar-‘teeltjies’ in ‘n sirkel in die middel indien gebruik. Bak 30 tot 40 minute tot opgepof en goed bruin bo-op.

Hoewel die souffle nie soveel sak nie, is dit beter om dit dadelik voor te sit. 

Wenke vir nou-aanmaak vir later-bak:

*Op hierdie punt kan dit ‘n paar uur by kamertemperatuur staan voor jy dit bak; of as jy dit die volgende dag wil bak, laat dit oornag in die yskas, haal betyds uit om kamertemperatuur te bereik en bak dan in die voorverhitte oond.

Foto’s en stilering: Errieda en Ian Du Toit