Is jy Charlie Brown in die Kerskombuis? Inspirasie uit MasterChef SA – The Cookbook

22 Dec

Charlie Brown, die legendariese strippie-karakter kan nie vatplek kry aan die vreugde van Kersfees nie.  Al hou hy van die geskenke en om die Kersboom te versier, voel hy steeds ongelukkig. Soveel so dat Linus vir Charlie uitwys dat hy sekerlik al mens is wat die wonder van Kerstyd in ‘n probleem kan omskakel.

charlie brown collage Kerstyd is daar in die kombuis ook vele kampe: Die Charlie Brown-kokke wat met ‘n frons mor oor wat  om vanjaar vir die hongeres te maak. Dan is daar die Linus-kamp: tog opgewonde oor die Kersmaal-kokery, maar klou aan veilige, tradisionele geregte soos ‘n trooskombersie: drie vleise, ‘n ryk Kerspoeding én koekstruif. Ek is eerder in die kamp van Charlie se suster Sally. Sy vat die maklike pad, maar kom met nuwe teorieë en filosofiese insigte.  En soos Sally, hou ek ook nie van somme maak nie. So niks ingewikkeld nie. Elke jaar soek ek ook inspirasie vir Kerstyd-kos in ervarings wat  my koshorisonne deur die jaar verbreed het.   As resep- en kookboekkraai  en groot aanhanger van MasterChef, was dit ‘n mylpaal vir my om as skrywer van MasterChef South Africa – The Cookbook, ‘ ‘n kykie agter die skerms te kon kry en veral om die kamaraderie tussen die deelnemers te ervaar.

MasterChef Voorblad R  MasterChef South Africa – The Cookbook, uitgegee deur Human & Rousseau

Ek kon seker tien feesmaal-spyskaarte uit die boek saamstel, soos naaswenner Sue-Ann Allen se beet- en bokmelkkaas samoosas vir ‘n vooraf-happie; Noord-Afrika lamsvleis met ‘n anys en komyn-gegeurde vleissous; Ilse Nel se sitrus-sjerrie varkskouer, die legendariese Meraai se hoenderpaai; die agt-ure lamsrol of sjef Peter Tempelhoff se geroosterde eend met heuningvye.  Ek het gewik en geweeg tussen Jade De Waal se warm Kaapse bessie-sjokolade tert met pistasieneut en kardomyn roomys teenoor suikertand  Thys Hattingh se kersie-frangipani tert. Vir die Kers-voorgereg kies ek volstruis crostini met kersie-marmelade, ‘n peuselhappie waarmee die jonge Lungile die knorrige beoordelaar Pete Goffe-Wood breed laat glimlag het. Dis iets waaraan my Kersgaste sommer staan-staan kan hap, terwyl manlief vonkelwyn en vrugtepons aandra.  Volstruis is eg Suid-Afrikaans, die kersies gepas vir  Kersfees  en die meeste elemente van die happie kan voor die tyd gemaak word. Dit troos ook die vleiseters, want my keuse vir hoofgereg is teen tradisie in nie varkbraaistuk, skaapboud of kalkoen nie, maar kabeljou. Met hierdie kroongereg in die MasterChef SA kookboek bewys sjef Michael Broughton dat sy kosfilosofie koning is.  Hy skryf die sukses van die gereg toe aan eenvoudige bestanddele, aromatiese geurmiddels, eenvoudige voorbereiding. Daarby verskillende kleure, geure, teksture en baie geur. Nagereg? Hoe soeter, hoe sjokoladeriger, hoe stroperiger en hoe mooier, hoe breër glimlag ek.  Ek kies die sjokolade fondant met amarula crème en gekarameliseerde pere waarmee Deena Naidoo die poeding familie uitdaging gewen het.  Met die skryf van die boek het Deena dit met my gedeel dat die poeding sy mees spesiale oomblik in die kompetisie verteenwoordig. Hy het  met die poeding ‘n prys verdien om sy vrou vir piekniek te kon neem.   En dis waaroor Kersfees gaan: om tyd saam met geliefdes aan tafel te kan deel en nuwe smaakherinneringe te skep. RESEPTE Lungi se volstruis en kersiemarmalade crostini R

Resep: Lungile Nhlanhla; Jacques Erasmus; fotograaf Myburgh du Plessis. 

Volstruis Crostini met kersiemarmelade (Geskep deur Lungile Nhlanhla, nou Drum se assistant-kosredakteur) Die vleis kan in ‘n riffelpan of oor die kole gaargemaak word.  Maak die kersiemarmelade vooraf. Bestanddele: 30 ml olyfolie 15 ml fyn komyn 15 ml paprika 10 ml knoffel, fyngekap Sout en peper na smaak 4 volstruis steaks 1 ciabatta gesny Kersiemarmelade  15 ml botter 15 ml olyfolie 1 stingel seldery grofgekap 4 cm stuk vars gemmer, gekap 250 ml rooiwyn 400 g kersies ontpit 15 ml korrelmosterd Garnering: ‘n Handvol vars roket blare Gruyére skaafsels Metode; 1. Meng 10 ml van die olyfolie met die komyn, gemmer, paprika, knoffel, sout en peper. Vryf die mengsel op die volstruis steaks. 2. verhit ‘n riffelpan tot baie warm en braai die steaks tot medium-gaar (3-4 minute aan ‘n kant) of braai oor warm kole.  Hou eenkant om te rus. 3. Drup die oorblywende olyfolie oor die ciabatta snytjies en braai dit in ‘n riffelpan of oor warm kole tot liggies gerooster. Marmalade 4. Verhit die botter en olyfolie in ‘n kastrolletjie en kook die vars gemmer en seldery  tot sag, vir ongeveer 10 minute. 5. verhoog die plaat se hitte, voeg die wyn by en kook tot die alkohol verdamp het. Voeg die kersies by en kook vir ongeveer 10 minute oor medium hitte. Voeg die mosterd by sodra die kersies sag is. Om voor te sit: Sny die steaks in dun skyfies. Plaas ‘n roketblaar op elke snytjie ciabatta, dan ‘n skyfie vleis en skep dan van die kersiemarmelade bo-oor. Sprinkel van die Gruyére skaafsels oor en bedien koud of warm. Michael Broughton Kabeljou R

Resep Michael Broughton; Kosstilering Jacques Erasmus; fotograaf Myburgh du Plessis. 

Kabeljou geposjeer in bruin botter met aspersies, porcini en knoffelroom (Geskep deur Sjef Michael Broughton, Terroir) Vars, lig en onopgesmuk en pragtig op die oog met die kleure van Kersfees: groen aspersies, rooi tamaties  en ‘n goue bottersous.  My raad is om groenbone of broccolini te gebruik as aspersies nie beskikbaar is nie.   Bruin botter: 200 g ongesoute botter Vis: 4 x 180 g porsies kabeljou 1 tamatie ontpit en in blokkies gekap 2,5 ml gekapte roosmaryn 1 ml gepiekelde suurlemoen, baie dun gesny 20 ml grasui fyn gesny 5 ml suurlemoensap Knoffelroom: 250 g knoffelhuisies geskil 2 L melk 90 ml goeie olyfolie 30 ml warm room 30 ml groente aftreksel Sout na smaak Aspersies: 12 aspersies, geskil en geblansjeer en droog gemaak. 4 dun snytjies (2 mm dik) rogbrood. Porcini: 30 ml olyfolie 30 ml bruin botter 4 porcini sampioene in skyfies gesny (4 mm) 1 takkie vars tiemie 1 knoffelhuisie Sout en peper na smaak Bietjie suurlemoensap 15 ml gekapte pietersielie Metode: BRUIN BOTTER 1. Plaas die botter in ‘n diep braaipan op ‘n hoë hitte en kook tot die botter bruin is en ‘n neutering reuk het – net voor dit bitter raak – plaas dadelik die pan in koue water om die kookproses te stop. 2. Laat die botter toe om te skei en skep dan al die vet af, met net die waterige vloeistof wat agterbly. Verwyder die oortollige vloeistof. VIS: 3.Plaas die vis met die velkant na onder in die bruin botter en posjeer by ‘n konstante hitte van 65ºC vir 15 minute, draai halfpad om. Verwyder die botter, plaas ‘n deksel op en hou die vis warm. Hou die botter eenkant. SOUS: 4. Plaas die botter in ‘n kastrolletjie en vou die res van die bestanddele in. KNOFFELROOM: 5. Bedek die knoffelhuisies met melk en verhit tot kookpunt. Herhaal die proses drie keer. 6. Voeg die knoffel in ‘n versapper en versap terwyl die olyfolie stadig bygevoeg word, soos met mayonnaise. Voeg dan die warm room by gevolg met die groente aftreksel. Geur met die sout en versap weer tot die mengsel sag en romerig is. Hou warm. ASPERSIES: Voorverhit die oond tot 180ºC 7. Draai een snytjie brood om drie aspersies. Borsel van die oorblywende bruin botter oor en bak vir 5 minute tot deurwarm. Geur met sout. PORCINI: Verhit die olyfolie en bruin botter in ‘n kastrolletjie oor hoë hitte en braai die sampioene met die tiemie, knoffel, sout en peper.  Kook die plan af met suurlemoensap en voeg gekapte pietersielie by. Om voor te sit: Braai die vis in ‘n kleefvrye pan in die bruin botter met die velkant na onder en geur. Plaas van die knoffelroom op ‘n bord met die aspersies eenkant. Plaas die vis met die velkant na bo en laat rus op die aspersies. Rangskik die porcini sampioene langs die vis en skep van die sous oor. Deena sjokolade fondant pere en Amarula R

Resep Deena Naidoo; Kosstilering Jacques Erasmus; fotograaf Myburgh du Plessis. 

Sjokolade fondant met Amarula room en gekaramaliseerde pere. (Deena Naidoo, wenner van MasterChef Suid-Afrika) Amarula is ikonies-Suid-Afrikaans en feestelik. En wie kan die loperige sjokolade-vulkaan weerstaan?  My raad is om ‘n ywerige kok te betrek by die kosmaak sodat jy ‘n ogie oor die poedinggang kan hou.  Bestanddele Amarula room: 210 ml melk 75 ml Amarula likeur ½ vanielje peul 2 eiergele 30 ml strooisuiker Gekaramaliseerde pere 15 ml botter 1 peer ontpit, geskil en in 4 mm skyfies gesny 15 ml strooisuiker Sjokolade fondant 150 g botter 150 g donker sjokolade (70 % kakao) 3 eiers 15 ml bruismeel Metode: AMARULA ROOM 1. Verhit die melk, likeur en vanielje peul tot net voor kookpunt. Verwyder van die hitte en plaas eenkant om te trek. 2. Klits die eiergele en suiker in ‘n dubbelkoker tot lig en donsig. Voeg die melk geleidelik by die eiermengsel en klits aanhoudend. Kook tot die mengsel effens dikker word. Roer aanhoudend. PERE: 3. Verhit die botter in ‘n braaipan, voeg die pere by en sprink strooisuiker oor. Braai die pere aan albei kante tot die gekaramaliseer het. FONDANT: Voorverhit die oond tot 200ºC. Smeer twee ramekin bakkies met botter en bestrooi met meel. 4. Smelt botter en sjokolade in ‘n dubbelkoker oor lae hiite tot gesmelt. Roer aanhoudend. 5. Klits die eiers tot lig en donsig en vou die meel liggies in. 6.Vou die sjokolademengsel liggies in. 7. Gooi die mengsel in die voorbereide ramekins tot driekwart vol. Bak slegs vir 8 minute. Haal uit die oond en verkoel effens. 8. Sodra koel genoeg om te hanteer, word die fondant op ‘n bord omgekeer. Bedien saam met die pere en Amarula room. Meer oor  MasterChef South Africa: The Cookbook.  Kook soos  ‘n kampioensjef in jou eie kombuis en herleef die hoogtepunte van die kosprogram wat die land vanjaar aan die praat en kook gehad het.  MasterChef South Africa, the Cookbook is pas deur Human & Rousseau uitgereik. Die boek, geskryf deur Errieda du Toit onder redaksie van Daleen van der Merwe, bevat  die beste resepte wat getoets en aangepas is vir huiskokke. Van Thys se soetgebak tot Sarel van Sabie se boerewors; Deena se garnaalkerrie en sjef Bennie se wortelkoek. Daar’s ook  peertert met Chantilly room, waterblommetjiebredie, koeksisters, koesisters en ‘n gedekonstrueerde melktert met appelmoes en boeremeisjes. Kry agter -die -skerms-inligting, hope kookwenke en stap-vir-stap aanwysings vir moeiliker tegnieke. Die pragtige kosfotos wys ook hoe om die geregte voor te sit.  Kosstilering deur Jacques Erasmus  en foto’s deur Myburgh du Plessis.  Die boek is op Exclusive Books se Hot List. Aanbevole rakprys R350. Kyk ook vir die spesiale aanbieding op Kalahari.net en Leserskring. Dis ook by Woolworths, Bargain Books, Wordsworth, CNA en ander boekwinkels beskikbaar. * Nota: hierdie artikel van my het onlangs in Beeld verskyn.    Resepte en fotografie met vergunning Human & Rousseau Uitgewers.

{Ek kan nie hierdie kamma-‘Sally Brown’ grappie weerstaan nie…}

to me the joy of getting

2 Responses to “Is jy Charlie Brown in die Kerskombuis? Inspirasie uit MasterChef SA – The Cookbook”

  1. nina December 23, 2012 at 7:34 am #

    Ek was so bevoorreg om ‘n klompie van die vernuftige kokke ook in my kombuis te hê en die vakansie kook ek saam met Sarel……wel gedaan aan jou dat jy die kameraderie so goed verwoord het, puik boek!!

    • huiskok December 23, 2012 at 8:03 am #

      En dankie dat jy altyd my blog-goete lees, Nina.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: