Ek onthou die keer wat ek die eerste keer gehoor het wat ‘n gros is. Toe ek nog ‘n laerskoolkind was het my pa Victor Saterdagoggende na die Epping-mark toe gegaan om te gaan vrugte en groente koop. Pa kom toe een Saterdag huis toe met ‘n krat vol piesangs. ‘n Gros. Ja 144 piesangs. Toe al klaar ietwat ryp.
Ons het aan banana-splits gesmul, ons het piesang op brood gesit met kaneel bo-oor en in die oond gerooster, Ma het kerriepiesangs gemaak, piesangs saam met die bobotie, piesangmoes in pannekoeke opgerol, piesangs oor die Weetbix, piesangs in poffertjies met kaneelsuiker oor. Piesangs skool toe in die kosblik. My skooltas het vir lank nog die piesangreuk gedra. Natuurlik is daar piesangbrood gebak vir ‘n vale. Dit was voor die dae van die groot vrieskaste, so Ma het vir almal uitgedeel, die bure, die posman, die kuiergaste, en sommer vir die vriendelike afleweringsman van Kolly’s Apteek ook.
Die aangename geur van piesangbrood wat bak, vat my altyd reguit terug na Ma se kombuis met sy seegroen kaste en die stoof wat daarby pas. Sy het die resep uit die kop gemeng – met 144 piesangs om te verwerk kon sy in elk geval dit geblinddoek maak. Ek weer het ‘n resep nodig, en elke keer was dit ‘n boekdeurblaaiery om een te kry. Hierdie een hou ek nou voor in my Kook en Geniet vir die dag wat die piesangs in die vrugtemandjie te ryp word vir netso eet. As ek sjokolade in die huis het, word dit grofgekap bygemeng, sodat die stukkies sjokolade die piesangbrood bietjie optof. Vir ekstra tekstuur strooi ek bruinsuiker bo-op voor ek dit bak – dit gee net ‘n ekstra bakkers-finesse aan die piesangbrood. Jy kan ook die derde piesang growwer fyndruk, vir ekstra tekstuur aan die piesangbrood. *
Piesangbrood is nie iets wat ons oumagrootjies sou maak nie. Die koekbrood soos ons dit vandag ken het eers in die 1930’s werklik gewild begin raak, deel van ‘n genre van vinnige meelmengsels wat deur die kommersiele beskikbaarheid van rysmiddels soos bakpoeier aangegryp is deur huisvrouens.Skielik was dit nie meer nodig om in te suur nie – vandaar die term vinnigebroodjies. Ek spoor wel ‘n resep vir Piesangkoek op in Mev van Tulleken se kookboek van 1923, wat met die roommetode gemaak word en versuikerde skil inkry. Ook nie Hildagonda Duckitt se boeke het ‘n resep vir ‘n piesangbrood nie. Vroeg in die 20ste eeu is piesangs ook merendeels net gebruik om bo-op koeke te sit.

Vir hierdie piesangbroodjie het ek heelwat okkerneute ingesit, bruinsuiker in die beslag en bo-op gestrooi en met konfyt vir ontbyt bedien.
Maak piesangs so gouer ryp: Hoe gemaak as die lus jou oorval en die piesangs in die vrugtebak loer vir jou met hul jong, groengeel skille aan – nie ‘n bruin kol in sig nie? Alhoewel almal dit maak met oorryp piesangs, is dit eintlik ‘n gebruik wat uit spaarsamigheid ontstaan het om vermorsing te voorkom. Dit is nie noodsaaklik vir piesangs om so ryp te wees nie. Dis wel makliker om fyn te maak, maar solank die piesang nie groen is nie, behoort jy goeie resultate met ‘n geelskil piesang te kry. As jy wel verkies, kan jy die piesangs op hierdie maniere vinniger ryp maak.:
- Plaas piesangs in ‘n bruinpapier- of plastiek sak saam met ‘n ongeskilde tamatie, appel of peer. Die gasse wat vrygestel word laat die piesangs gouer ryp raak – dit sal 24 uur neem.
- Kan nie eers 24 uur wag nie? Pak die onryp piesangs op ‘n gevoerde bakplaat uit met genoeg spasie tussenin. Bak sowat 40 minute teen 150°C. Die skille sal heeltemal verkleur, maar die binnekant sal lekker sag en geurig wees.
Ekstra smaakskop en streusel:
- As jy wil kan jy ekstra geur aan die brood gee met smaakmiddels soos kaneel, gemmer, vanielje- of amandelgeursel; okkerneute of pekanneute en selfs sultanas. Ek hou van die smaak van donker sjokolade saam met die piesang.
- ‘n Ander nuutjie is om piesangbrood ‘n streusel bo-kors te gee: ¼ koppie meel, 1/3 koppie ligte bruinsuiker (saamgedruk)
Maak dan so: meng die meel en die bruinsuiker, Sny die botter in by die meel tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Roer die neute by en strooi oor die beslag in die pan voor dit gebak word. 1/3 koppie fyngekapte neute en kaneel. 30 ml koue botter in blokkies,
Pronto-pronto piesangbrood met sjokolade-stukkies
Hoekom ek dit pronto-pronto noem? Die mengmetode is die vinnigste en maklikste van enige wat ek al gemaak het. Natuurlik vat hierdie vinnige broodjies steeds hul tyd in die oond. Hierdie koekbrood het ‘n pragtige tekstuur en piesangsmaak.
Bestanddele
- 100 g sagte botter
- 175g strooisuiker
- 2 groot eiers
- 2-3 ryp piesangs (fyngemaak)*
- 225 g bruismeel
- 5 ml bakpoeier
- 2 E melk
- 100 g donkersjokolade, grofgekap
- Bruinsuiker om oor te strooi.
Metode
- Voorverhit die oond tot 180C. Smeer ‘n broodpannetjie liggies uit en voer uit met bakpapier.
- Meet al die bestanddele af direk in die mengbak (buiten die sjokoladeblokkies) en klits vir 2 minute tot goed gemeng. Vou die sjokolade stukkies in.
- Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk, strooi bruinsuiker oor en bak in die voorverhitte oond vir 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin. Die beslag sal ‘n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is.
- Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak. Sit die ketel aan en geniet snye ongebotter met koffie of tee.