Paprika en komyn plathoender (daarby vinnige piekel en gemokerde jong aartappeltjies

18 Okt

Ek sê ‘flattie’, jy sê ‘spatchcock’, die puriste praat van gevlekte hoender, maar almal stem saam, die plathoender-tegniek sorg vir vinnige en sappige resultate.

Die dag vra juis vir hierdie paprika plathoender in die pan, mooi en lekker gemaak met ‘n halssnoer van tamatietjies ingeryg op die tak. Te winderig vir vuurmaak só dit gaan oond toe terwyl Eskom my nog uitspaar.

Hierdie afgeplatte weergawe van gebraaide hoender het meer van ‘n ontspanne persoonlikheid as die Sondag oondhoender, wat dit so geskik maak vir litte losmaak en meer spontane koskuiers. Die moeitevrye paprika-marinade word net een keer – naby die einde van die braaityd – aangeborsel, wat bydra dat die helder kleur behou word en die paprika nie donkerbruin word nie. ‘n Vinnige, pittige komkommerpiekel en gebotterde karwy-aartappels is die perfekte afronding daarby.

Kosnuuskierig? Volgens The Oxford Companion of Food is ‘spatchcock’ waarskynlik ‘n afkorting van ‘dispatch the cock, ‘n frase wat gebruik was om die tegniek te beskryf om eers die geveerde agter oop te sny en oop te spalk voor dit gespitbraai of gerooster word.

Paprika-plathoender

4-6 porsies

Hoender

1 knoffelbol, huisies geskei

1,5 kg gevlekte hoender 

30 ml ekstra suiwer olyfolie

15 ml soet paprika (gerook indien verkies)

15 ml komyn 

3 ml rooipeper (cayenne)

Skil en sap van 2 lemmetjies 

15 ml heuning

30 ml oregano blare, fyngekap plus ekstra om te bedien

Voorverhit die oond tot 180°C. Strooi knoffelhuisies op ‘n bakplaat of pan en plaas die hoender bo-op. Vryf die hoender met 15 ml olyfolie in en geur. Rooster vir 1 uur.

Voeg die paprika, komyn, rooipeper, asyn, lemmetjieskil en sap, heuning, oregano en oorblywende 15 ml olie in ‘n flessie, voeg sout en peper by en skud om te kombineer.

Skuif die knoffelhuisies onder die hoender uit na die rand van die bakplaat, borsel die hoender met die marinade en rooster tot die hoender gaar en goudbruin is, en die knoffel sag, sowat 15 minute. Rus 10 minute onder ‘n foelietent en sit dan voor saam met die pansappe en oregano. Enige oorblywende marinade kan by die pansap gevoeg word.

Vinnige piekelkomkommer met dille:

1 komkommer

3 ml soutvlokkies

30 ml rysasyn of asyn

45 ml suiker

30 ml gekapte dille

Sny komkommer in papierdun skywe. Plaas dit in ‘n sif, strooi sout oor en sit vir ‘n uur oor ‘n bak sodat die sappe kan uitloop. Druk droog en meng met die asyn, suiker en dille. Hou in die yskas totdat dit gereed is om te bedien.

Gebotterde “gemokerde’ jong aartappels met karwysade:

500 g jong aartappels

15 g botter

10 ml karwysaad, liggies plat gemoker

Kook die aartappels in soutwater tot sag, 20 – 30 minute. Dreineer. Smelt die botter in die kastrol, voeg die karwy by, meng die aartappels by. Proe en geur na smaak.

Foto en stilering: Errieda en Ian Du Toit

 

 

 

Sout appelfrummel met pêreluitjies en okkerneut- en tiemiestreusel

26 Sep

Hoe kan mens die huil-toneel uit ‘Like Water for Chocolate’ vergeet?

Sometimes she would cry for no reason at all, like when Nacha chopped onions, but since they both knew the cause of those tears, they didn’t pay them much mind. They made them a source of entertainment, so that during her childhood Tita didn’t distinguish between tears of laughter and tears of sorrow. For her laughter was a form of crying. Likewise for Tita the joy of living was wrapped up in the delights of food.”

Ek het trane gestort, gesnuif en gelag terwyl ek die 20 pêreluitjies geskil het vir hierdie ongewone sout appel en oondgeroosterde uiefrummel met sy okkerneut-tiemie-streusel.

Nou dat ek weet (a) hoe besonders dit is en (b) dat Food Lovers’ Market nou klaargeskilde piekeluitjies verkoop, sal ek dit beslis sommer gou weer maak. Maar selfs al moet ek weer deur die tranedal gaan, is dit die dik oë werd vir die mense aan my tafel.

Soos Tita sê: die vreugde van die lewe is toegedraai in kos.

Soos ek sê: Hierdie frummelgereg wys hoeveel vreugde in ‘n appel en ‘n ui toegedraai is.

Dit wys ook dat ‘n appelfrummel nie net ‘n nagereg hoef te wees, maar ‘n waardige bygereg saam met ‘n vet tjoppie tot varkwors.

Ek het die kinkelresep ontdek in ‘n Amerikaanse kookboek ‘Around the Fire: Recipes for Inspired Grilling and Seasonal Feasting’ deur Greg en Gabrielle Quiñónez Denton.

Appels is regtig meer suur as soet, en dit is eers wanneer dit suiker bykry dat dit ‘n nagereg word. Hier word hulle meer soos groente behandel, en bo-op ‘n krummellaag kry van vars tiemie en geroosterde okkerneute.

Vir ’n tikkie soet word die uitjies eers gerooster om die natuurlijke suikers uit te bring.

SOUT APPELFRUMMEL EN PÊRELUITJIES

met Okkerneut-Tiemie Streusel

Só veelsydig, ideaal vir koeler dae, saam met vetterige vleis, ‘n spoggereg vir ‘n feestelikheid. Kortom, ‘n paar trane werd.

VIR 4 TOT 6 AS ‘N BYDIS

Okkerneut-Tiemie Streusel

250 ml gerolde hawermout

125 ml ongesoute botter, by kamertemperatuur

125 ml gekapte, geroosterde okkerneute

45 ml koekmeel

15 ml suiker

10 ml gekapte vars tiemie

5 ml sout (minder as jy sout botter gebruik)

2,5 ml grofgemaalde swartpeper

Appel- en ui vulsel

500 g piekel- of pêreluitjies, geskil 30 ml ekstra-suiwer olyfolie

sout en varsgemaalde swartpeper

500 g (3 koppies) geskil, gesnyde Granny Smith appels

60 ml botter

8 gekapte salieblare

125 ml port of rooi muskadel

20 ml koekmeel

Maak streusel so: kombineer die hawermout, botter, okkerneute, meel, suiker, tiemie, sout en peper; meng tot net gemeng (moenie oormeng nie). Verkoel vir ten minste 30 minute.

Voorverhit die oond tot 205° C.

Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit.

Om die appelvulsel te maak, voeg die uie eers in ‘n bak saam met die olie en meng deur. Geur met sout en peper. Dra dan oor na die voorbereide bakplaat. Rooster tot liggies gekaramelliseer en sag, sowat 25 minute. Haal uit en laat effe afkoel.

Giet uie in ‘n bak. Meng die appelskywe deur die uie.

Verlaag die oondtemperatuur tot 190 ° C.

Smelt die botter in ‘n klein kastrol oor medium hitte. Hou aan kook totdat die botter diep bruin word en soet en neuterig ruik, 4 tot 5 minute. Verwyder van die hitte en voeg die salie by (die blare sal sis en kraak). Gooi die port by (oppas, dit kan spat) en geur met sout en peper. Gooi dadelik die saliebotter oor die appels en uie; sprinkel die meel oor en geur met sout en peper, meng dan liggies deur om te kombineer. Gooi die mengsel in ‘n 20 cm oond- of gratinskottel, versprei en druk in ‘n egalige, plat laag. Krummel die streusel bo-oor in klein stukkies (nie groter as ‘n klein albaster nie). Bak totdat die streusel-bolaag gaar en strooibruin is en die vulsel borrel, 35 tot 45 minute.

Bedien warm.

Kaapse Brandewyntert – Tipsy tert

20 Sep

Ontmoet Haar Koninklike Heerlikheid die Tipsytert, ‘n adellike Suid-Afrikaanse erfenispoeding met skuilname Kaapse Brandewyntert en Dadelpoeding. Watter naam ookal, die weelderige bruinpoeding is lekkerder as die Britte se sticky toffee pudding. Dis selfs verhewe bo die Amerikaanse pecan nut pie, wat baie sê want ‘n pekanneuttert is hoog op my lieflinglys).

Tipsytert in ‘n lente-stemming

Ek verkies tipsytert selfs bo malvapoeding, die darling van ons land se poedingtafel. Terloops, malvapoeding het deur die jare die brandewyn in sy sous sien opdroog – tegnies gesproke is dit sonder die alkohol ‘n Jan Ellis-poeding, ‘n poeding met training wheels aan, teenoor tipsy tert is deesdae se malvapoeding so mak soos ‘n lammetjie.

Tipsytert is jou poort tot donkerder soet plesiere. Dit het ‘n diep toffieagtigheid te danke aan dadels, die blomgeure van brandewyn en daarby ook die neuterigheid en kraak van okkerneute of pekanneute. Dan nog die karamelgeure van bruinsuiker en botter, gemmer en neutmuskaat en ‘n sweempie lemoen wat jou alles lighoofdig van begeerte laat.

Die blink weelde van die sous ten spyt, bly die tert maar ‘n bruin storie, dit kan baat by verfraaing met ‘n eetbare blom, soos pronkertjes uit my lentetuin. Dan ‘n kwistige skep geklitste room of crème fraiche, of goeie roomys.

As jy nie van vrugtekoek hou nie, probeer gerus tipsy tert as jou toegang tot die donker plesier. As jy, soos ek, mal is oor Krismiskoek en nie kan uithou vir Mynhardt se Feestelike Vrugtekoek op Kersdag nie, is tipsy tert die ideale tussentydse surrogaat.

Resep met baie name:

Resepte vir hierdie heerlikheid verskyn op allerhande plekke in kookboeke. Soms in die hoofstuk vir warm poedings, ander kere weer onder Terte. Of die titel fokus op die brandewyn (en tipsy), ander kere op die dadel. Ek verkies Kaapse brandewyntert, omdat dit iets vertel van die gereg se oorsprong, maar gebruik net so graag na die tong-in-die-kies troetelnaam tipsytert.

Ek het gaan loer na resepte van die groot geeste soos Peter Veldsman (Kos van die Eeu), Dorah Sitole, kosgeskiedkundige Hetta van Deventer-Terblanche (Cape Winelands Cuisine), Mev SJA de Villiers (Kook en Geniet) en Magdaleen van Wyk se Kook Suid-Afrikaans. Die eerste tipsy tert wat ek ook gemaak het was uit my universiteit-handboek, Kos en Kookkuns (ook bekend as die Groen Boek onder huishoudkundiges).

Die resepte is almal baie soortgelyk. Hetta voeg rosyne by, Peter se metode is meer verfynd en ek volg sy mildelike gebruik van fyn gemmer, neutmuskaat en kaneel. Soms geur lemoenskil die beslag; ek voeg repe daarvan in die stroop.

Ek maak ook ‘n groter tert om die hele blok van die dadels op te gebruik. Dit is genoeg vir 12 snye. Ek werk dit so dat daar altyd ‘n paar snye oor is vir die volgende dag, want dan is dit vir my op sy lekkerste – die brandewyngeure versag en die soetheid word getem.

KAAPSE BRANDEWYNTERT (TIPSYTERT)

Beslag

250 g blok saamgeperste ontpitte dadels (Safari), gekap

5 ml koeksoda

250 ml kookwater

125 g sagte botter (nie gesmelt nie)

200 g (250 ml) sagte bruinsuiker

2 eiers, klits tot skuimerig

240 g (500 ml) koekmeel

5 ml bakpoeier

2,5 ml sout

2,5 ml varsgerasperde neutmuskaat

2,5 ml fyn gemmer

100 g (250 ml) okkerneute of pekanneute of amandel, gekap

Skil van 2 lemoene (opsioneel)

Brandewynsous vir oorgooi:

250 ml bruinsuiker

150 ml water (ek gebruik helfte room en helfte lemoensap)

125 ml brandewyn

15 g (15 ml) botter

Knippie sout

5 ml vanieljegeursel

Paar repe lemoenskil (as jy nie lemoensap gebruik of skil by die beslag voeg nie)

Versiering en opdiening: Geklitste room

Maak só:

Voorverhit oond tot 180°C met oondrak in die middel. Smeer ‘n 25 cm-tertbord of poedingbak met botter, strooi liggies met meel en skud die oortollige meel uit.

Plaas die gekapte dadels in ‘n bakkie, strooi koeksoda oor en giet kookwater oor. Roer deur en laat staan eenkant

Klop die botter in ‘n mengbak en klop die suiker geleidelik by tot dit lig en donsig is (ek gebruik elektriese klitser, maar houtlepel werk net so goed). Klits die geklitste eier geleidelik by. Hou aan klits tot die suiker opgelos is.

Sif die meel, bakpoeier, sout en speserye by die eiermengsel in en meng goed. Roer die dadelmengsel en lemoenskil (indien gebruik) by, gevolg deur die gekapte neute. Skep dit in die gesmeerde bak, en maak ‘n effense holte in die middel. Bak 35-40 minute tot gaar. Maak die sous terwyl die tert bak.

Brandewynsous:

Verhit die botter, water of helfte-room-helfte-water, vanielje en sout in ‘n kastrol 3n laat dit sowat 5 minute prut. Roer die brandewyn by en haal van die hitte af. Haal tert uit die oond, en giet dadelik die sous stadig oor om heeltemal in te trek. Indien dit opdam om die rand, kan jy gate reg rondom steek met ‘n toetspen.

Sny in skywe of blokke. Bedien warm of koud met geklopte room, eiervla of roomys.

Wenke:

  • die tert is baie lekker as dit ‘n paar ure gestaan het, selfs oornag. Die brandewyngeure versag en tem die soet.
  • As jy dit vir Kersfees wil voorsit, voeg gemmerstukke of sitrusskil by.

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

Lammetjie-uitnek lentebredie (‘Navarin’ met jong groente)

15 Sep

Ek het die ideale oplossing vir hierdie tussenin dae wat die lente hom soos winter gedra. Nooi die hardnekkige reëngode vir ‘n afskeidsete; ‘n ‘Dankie-vir-alles-maar-julle-kan-nou-maar-gaan’ seremonie.

Die tafel word gedek met ‘n wit linnetafeldoek omsoom met ‘n fyn hekelrand. ‘n Losse rangskikking van jong lentegroentes staan in vir blomme.

Dan nog outydse pienk-en-wit diepborde om my Kaaps-Franse weergawe van lamsnek-navarin in op te skep. Met ons tusseninweer is dit heerlik lig, maar tog nog troostend as die koue wind om die hoeke huil.

Wat is navarin:

Navarin is ‘n delikate landelike stoweskottel wat die mooiheid van lente-bestanddele besing. Jong, babasoet groente, piepklein radyse en rape (‘navets’), altyd witwyn. Vars kruie vervang speserye van swaarder winterbredies.

Dit word tradisioneel, veral in die Franse skaapwei-streke soos Normandië, in lamseisoen gemaak wanneer die lentegroente nog piepklein was.

Navarin is maklik om te maak, met die bedwelmende aromas van stowevleisvleis, vars groente en kruie (eerders as speserye) om warmer dae uit hul wegkruipplek te lok.

Die vleis: ek gebruik hiervoor lamsnek (wat die Franse die kraag of collet/collier noem). Die gelatien in die nek gee diepte en rykheid aan die andersins ongekompliseerde gereg.

Groente: jong wortels, rape, radyse, jong aartappeltjies, ertjies, petite tamaties, babavinkelbolle, piep-groenbone.

LAMSNEK NAVARIN

Maak 6 – 8 porsies

• 2 lamsnekke, in lengte gehalveer, en elke helfte in 2 stukke te sny (of ‘n mengsel van lamsnitte soos kortribbetjies, opgesnyde skenkels of bladtjops)

• Olyfolie of varkvet

• Sout

• 2 uie, gekap

• 2 jong geelwortels, in blokkies

• 1 selderystingel, opgekap

• 4 knoffelhuisies, gekneus

• 250 ml droë witwyn

• 6 peperkorrels

• 1 kruieruikertjie (2 lourierblare, 5 takke pietersielietakke, 1 tak roosmaryn, 4 tiemietakkies)

• 2 ryp tamaties, in blokkies

• 6 jong rape, geskil en in helfte gesny

• 6 radyse, gewas, behou stukkie stingel en stertjie

• 12 jong wortels, met stukkies groen stam, hou heel

• 12 jong aartappeltjies, ongeskil

• 4-6 babavinkel, gehalveer (opsioneel)

• 250 ml bevrore ertjies

• Klont sagte botter

Metode:

Voorverhit die oond na 160° C. Druk die vleis droog en geur goed met sout.

Verhit die olie in ‘n groot, hittebestande kasserolbak en verbruin die nekstukke. Skep uit.

In dieselfde bak, soteer die uie, knoffel, wortelblokkies en seldery. Roer tamatie by en braai ‘n minuut of so.

Plaas die vleis terug in die pan met die kruieruikertjie en peperkorrels. Gooi die wyn by en bedek met genoeg koue water om die vleis te bedek. Laat dit net liggies opkook en skep die skuim af van die oppervlakte.

Plaas deksel op, plaas in die oond en bak sowat 90 minute. Intussen, berei die jong groente voor en vroeg by (behalwe ertjies). Bak tot die vleis loskom van die bene en die groente vurksag.

Gooi ertjies by. Verwyder die kruieruikertjie. Geur met sout en peper na smaak, roer die sagte botter by.

Plaas die oondbak op die tafel en skep uit in diep borde. Sit voor met Franse brood of ‘n sourdough-tipe brood.

Foto’s en stilering Ian en Errieda Du Toit

Die maklikste kaassouffle

13 Sep

Sewe. Dis hoeveel geregte die gemiddelde huiskok in hul repertoire het en keer op keer maak. Dis volgens ‘n Britse verbruikers-ondersoek ‘n paar jaar gelede.

As ek dan net sewe resepte geregte moes kies is hierdie maklike, fieterjasie-vrye super-heerlike kaassouffle beslis op my lys.

Die souffle met sy imposante pofbolaag en eteriese tekstuur breek al die mites oor soufflé as ‘n intimiderende gereg.

⁃ Hier’s geen geskei van die wit en eiergeel nie,

⁃ Geen punterige geklits van die eierwit met al die reëls wat daarmee saamgaan nie.

⁃ Geen aparte invou van die delikate, styfgeklitste eierwit by die bechamelsous nie.

⁃ Dit verg nie eers ‘n spesiale soufflebak met kietsregop kante nie (‘n ovaalbak – sommer Pyrex – skep ‘n groter area vir die begeerlike bruingebakte pofkors.

Die groot bonus van hierdie huisvrou-souffle is dat jy dit vooraf kan aanmaak en met gemak ‘n hele paar ure laat staan voor jy dit bak. Hierdie een op die foto het ek vir 2 ure laat staan tydens Beurtkrag tot ek dit in die oond kom druk. Dit kan ongebak selfs ‘n dag of twee vooraf in die yskas gehou word, en net eers tot kamertemperatuur gebring word voor jy dit bak.

Die soufflé rys dalk nie só flambojant soos die omslagtige sjeffy manier nie, maar dit sak ook nie so dramaties in as dit nie dadelik tafel toe gaan nie, want dis soveel meer stabiel.

Nog ‘n rede dat dit ‘n ereplek in my arsenaal van 7 koswonders het, is dat dit my skaars R50 kos (en dit maak 4 porsies). Met ‘n sny bruinbrood en slaai smul jy sonder om sooibrand te kry oor die kos pryse. (Ek het ekstra groot, vars vryloop plaaseiers deur ‘n buurt-kontak gekry teen R2.50 per eier)

Dis veelsydig ook: wissel die kruie en die kaas af, en voeg gerookte vis of ham by.

Die beloning lê in die neuterige smeltkaasgeure wat deur die huis warrel en die sug van die soufflé met die eerste skep deur die poflaag.

Moeitevrye kaassouffle

Maak 4 porsies 

90 ml botter plus ekstra om pan te smeer

60 ml gerasperde parmesaan-kaas, verdeel

90 ml koekmeel

500 ml volroommelk

2,5 ml sout

2,5 ml vars gemaalde swartpeper

5 ekstra groot (of 6 groot) eiers

650 ml gerasperde cheddar of Gruyere-kaas  plus (opsioneel) drie stukkies kaas in plat ‘teëltjies’ van 5 cm x 7,5 cm vir garnering

45 ml gesnipperde sprietuie

Metode

Voorverhit die oond tot 205 °C. Smeer ‘n ovaal oondvaste gratin bak (inhoudsmaat 1,5 l ) goed met botter en besprinkel die bodem en kante met die helfte van die gerasperde parmesaan. Hou  die orige gerasperde parmesaankaas terug om later oor te strooi.

Smelt die 90 ml botter in ‘n medium kastrol, roer die meel by (ballonklitser werk goed), meng goed deur en laat 10 sekondes kook.

Giet die melk op een slag by en klits energiek, hou aan om te klits tot die mengsel glad en dik is, en begin kook, sowat 2 minute. Haal van die hitte af en voeg die sout en peper by.

Breek die eiers in ‘n bak en klits baie goed met ‘n vurk. Na 10 minute behoort die witsous genoeg afgekoel het. Werk nou vinnig: voeg die geklitste eiers, gerasperde cheddar en gesnipperde sprietuie by die sous in en meng deur. Giet dit in die oondbak. Nou kan jy dit of dadelik bak, of laat staan tot jy dit later wil bak*.

Besprinkel die bokant van die souffle met die orige parmesaankaas, rangskik die drie cheddar-‘teeltjies’ in ‘n sirkel in die middel indien gebruik. Bak 30 tot 40 minute tot opgepof en goed bruin bo-op.

Hoewel die souffle nie soveel sak nie, is dit beter om dit dadelik voor te sit. 

Wenke vir nou-aanmaak vir later-bak:

*Op hierdie punt kan dit ‘n paar uur by kamertemperatuur staan voor jy dit bak; of as jy dit die volgende dag wil bak, laat dit oornag in die yskas, haal betyds uit om kamertemperatuur te bereik en bak dan in die voorverhitte oond.

Foto’s en stilering: Errieda en Ian Du Toit

Oumie se Suurlemoen-jogurtkoek en bloubessie-kompot

12 Sep

Die smaak van sonskyn in ‘n koek! Hierdie maklike suurlemoen-jogurtkoek word so baie deur Franse oumas gemaak dat dit die troetelnaam Gateau de Mamie dra. Ek gebruik tuisgemaakte jogurt wat Ian weekliks maak, maar enige goeie volroomjogurt sal jou goeie resultate gee. Vir opdiening is klapper gegeurde jogurt allerheerlik.

Die maklike bloubessie kompot – eintlik maar bessies gestowe in hul eie sap – is heerlik konfyterig en vol helder bessie geure. (Ek maak genoeg vir ontbyt se jogurt of oatspap).

OUMIE SE SUURLEMOEN-JOGURTKOEK EN BESSIE-KOMPOT

320 ml ongegeurde volroom jogurt

160 ml olyfolie

310 ml suiker

3 eiers

5 ml vanieljegeursel

625 ml koekmeel

12,5 ml bakpoeier

4 ml koeksoda

2,5 ml sout

Vars neutmuskaat

Gerasperde skil van 2 suurlemoene

Glasuur:

60 ml vars suurlemoensap

100 ml strooisuiker

Bloubessie-kompot

200g vars of bevrore bloubessies

Suurlemoensap

30 ml versiersuiker

Opsioneel: heel spesery soos steranys of kaneel, of reep lemoenskil

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm-losboompan liggies en voer die bodem met bakpapier.

Klits jogurt, olie, suiker, eiers en vanielje. Voeg meel, bakpoeier, koeksoda, sout, neutmuskaat en gerasperde skil by. Meng net genoeg tot die klonte uit is.

Giet beslag in die koekpan en bak 50 – 60 minute, bedek nader aan die einde met foelie wanneer dit begin bruin word. Dis reg as die koek van die rante begin lostrek en ‘n toetspen skoon uitkom. Laat staan 10 minute in die pan op ‘n afkoelrak en keer uit.

Vir die glasuur:

Meng suurlemoensap en strooisuiker saam tot helder. Smeer aan warm koek tot al die stroop ingetrek het.

Bessie-kompot:

Plaas die bessies en versiersuiker saam met ‘n stewige druk suurlemoensap in ‘n kastrolletjie. Voeg ook spesery by. Kook sowat 10 minute oor matige hitte tot die bessies bars en die sap stroperig word. Roer nou en dan. Gebruik meer versiersuiker as jy ‘n dikker stroop verkies. Proe en druk nog bietjie suurlemoensap by om smaak op te helder.

Bediening. Sif strooisuiker oor die koek as jy wil. Bedien met vars vrugte of bessie kompot en dik jogurt of crème fraiche.

Foto en stilering: Ian en Errieda Du Toit

Sagte toffie en piesang onderstebo koek

11 Sep

Daar’s soveel fantastiese bakplesiere in ‘n piesang opgesluit, anders as net Piesangbrood, soos hierdie sagte toffie piesang onderstebokoek.

Min soetgoed kan só spog met ‘n wow-oomblik soos wanneer mens die pan omdraai en die koek laat uitglip om sy stroperige vrugtejuwele te onthul.

Dit is ‘n baie lekker sagte fyn koek met ‘n bolaag van piesang in ‘n stroop van bruinsuiker-botterkaramel. Die toffie kan ook sout bykry vir ‘n moderne soutkaramel-smaak (nie te veel nie, want piesang moet steeds die held bly, nie die toffie nie). Vir ‘n ekstra tropiese noot kan klapper ook by die beslag kom. Jy kan ook kardomomsaadjies by die beslag voeg, en ander geure soos gemmer.

Wissel dit verder af deur die piesang of in lang skywe te sny of in ringetjies om ‘n polkadot-effek op die koek te skep.

Wenk: Ek bedien dit met gekookte kondensmelksous (skep blikkie Caramel Treat uit in kastrol of mikrogolf vaste bak, verhit tot loperig, voeg paar soutvlokkies by of suurlemoensap).

PIESANG- EN SAGTE TOFFIE ONDERSTEBOKOEK 

Maak een 23 x 12 cm koek in broodpan. Jy kan ook 24 cm ronde koekpan gebruik (vermy losboompan want die stroop sal uitloop)

Maak eers die piesang-bolaag:

50 g ( ¼ k botter)

100 g (1/2 k)  bruinsuiker

2-3 piesangs geskil

Koek beslag

200 g (1 ½ k) koekmeel

½ t bakpoeier

¼  t koeksoda

½ t sout

115 g ( ½  k sagte botter

1 k (200 g) witsuiker

2 eiers, kamertemperatuur

1 t (5 ml vanielje-ekstrak of paar druppels vanieljegeursel

½ k + 2 E suurroom (155 ml)

  1. Voorverhit oond tot 180C. Smeer ‘n 23 x 12 cm broodpan of ‘n 24 cm koekpan.
  2.  Maak die toffie-en piesang laag: Smelt die botter in ‘n klein dikboomkastrol oor medium hitte tot dit begin borrel. Voeg die suiker by, roer net tot opgelos en laat prut tot dik en glad. Gooi nou die karamel  op die bodem van die gesmeerde pan uit.
  3. Halver die piesangs in die lengte, en afhangdende van die grootte van die pan en die piesangs, sny elke stuk in 2 of 3 stukke.  Plaas die piesangs met die gesnyde kant op die toffie.
  4. Maak die koekbeslag:  In ‘n medium bak, sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam, Hou eenkant.
  5. In ‘n groter mengbak, verroom die botter en suiker tot lig en donsig – ek gebruik elektriese klitser. Onthou om die kante en bodem van die bak nou en dan te skraap.
  6. Voeg die eiers een op ‘n slag by (medium spoed) en klits goed na elke byvoeging. Klits die vanileje by.
  7. Op lae spoed klits die meelmengsel in 3 dele by, afgewissel met suurroom – begin met die meel en eindig met die meel.  Moenie die mengsel oorklits nie.
  8. Skep die beslag versigtig oor die piesangs en maak bo gelyk. Bak vir 40 – 50 minute tot goudbruin en toetspen skoon uitkom. Laat die koek vir presies 5 minute in die pan op ‘n afkoelrak staan. (as dit langer staan sal die koek vassit in die pan soos wat die karamel weer afkoel). Keer dit op die bedieningsbord uit en laat afkoel.

Sagopoeding vir Lente

1 Sep

Elke kombuis het sy eie seisoene, rituele en ritme. Vir my is die jasmynranke jaar na jaar die geurige herinnering dat ek min tyd oor het om my koeler-weer kosliefdes uit te leef.

Dan haal ek my Ma se blomborduurde tafeldoek en my mooiste blommetjiepoedingbakkies uit die ou side board uit, en die glasfles vol sagokorrels uit die spens. Lentedag word gevier met ouderwetse sagopoeding wat die parfuum van Lente in elke hap dra.

Daar’s net iets aan die blommerigheid van die vanielje, kaneel en kardomon, die uitbundige soetheid van appelkooskonfyt, ‘n ligtheid van gees aan die melkerige gebakte sago-eiervla. Die meringue-skuim herinner wel dat mens vir oulaas sneeu op die bergpieke kan verwag.

• Lente-idee: Vir ‘n Persiese noot, roer ‘n paar druppels rooswater of lemoenekstrak by die melkmengsel eerder as speserye (gebruik spaarsamig anders kan dit oorweldigend wees); dien op met versuikerde roosblare.

SAGOPOEDING

250 ml sago (die klein korreltjies, nie tapioka nie)

3 kardomonpeule

of

2 steranys

1 l volroommelk

125 ml suiker

30 ml botter

Knippie sout

vanieljepeul of vanilla essence

1 kaneelstokkie

3 eiergele, liggies geklits

2 eierwitte, styfgeklits tot dit puntjies vorm

Appelkooskonfyt om te stip

Vir meringue-bolaag

5 eierwitte

160 ml strooisuiker

Knippie sout

Metode

Verhit die oond tot 180°C. Kook die sago, melk en speserye saam oor lae hitte terwyl jy roer tot die korrels deurskynend is.  Verwyder die speserye. Roer suiker, botter en knippie sout by. Roer ‘n paar lepels van die warm mengsel by die geklitste eiergele (dit  voorkom ‘scramble’ eiers!). Haal kastrol van die hitte af en roer die eiergeelmengsel  by. Vou nou die styfgeklitste eierwit by die mengsel in (nie almal doen dit so nie – ek verkies dit om die mengsel minder ‘taai’ en meer pofferig te maak).

Skep in ‘n gesmeerde bak. Stippel met appelkooskonfyt. 

Maak die meringue:

Klits eierwit tot dit puntjies vorm, klits suiker bietjie vir bietjie by en knippie sout. Stapel meringue bo-op die sago en bak sowat 25 minute tot die vla gestol is en die meringue goudbruin is

Die poeding kan ook koud bedien word. Dan is dit baie lekker met ‘n vrugtestroop of coulis.

Wegbreek van tradisie:

Alhoewel ek van my sagopoeding ou-skool hou, het ons soveel makliker toegang tot ‘n verskeidenheid bestanddele dat mens die geleentheid moet gebruik om ons kostradisie te verryk en rond te speel met smake.

• Bedien met gestoofde gemengde droëvrugte (ook lekker koud)

• Wissel die speserye af met Chinese 5-speserymengsel.

• Drup gemmerstroop oor voor die meringue-laag opgesit word.

• Wissel die appelkooskonfyt af met frambooskonfyt, suurlemoenmarmalade of appelliefiekonfyt (iets suurs is die lekkerste).

• Kook  gedroogte nartjieskil saam met die sago en die melk – veral lekker in die winter.

• Kook sultanas saam met die melk en die sago; bestrooi met gekapte kasjoeneute of geroosterde amandelvlokkies of pistasieneute.

• Somer-idee: skep die koue sagovlamengsel versigtig in klein Consul-glasflessies om individuele poedings te maak, giet ‘n lagie gesmelte bessiekonfyt oor  en bedek met Italiaanse meringue. As jy ‘n blaasvlam het, verbruin die meringue daarmee.

• As jy jou sagopoeding modepop wil maak bak dit in cupcake papiervormpies.

Foto’s en stilering Ian en Errieda Du Toit

Frikadelle met rooiroksous

28 Aug

Daar’s soveel resepte vir frikadelle soos wat daar huiskokke is – Deense frikadeller, Spaanse albondigas, Italiaanse polpette … maar die beste bly maar die vaal frikadel uit my Ma se kombuis.

Gewoonlik eet ons dit net só uit die oond uit op ‘n dubbelbed van kapokaartappels om die sous op te vang. Ander dae maak ek haar epiese kerriepiesangsous daarby.

Dan: koolfrikkadelle! Die grootste eer wat ‘n koolkop kan ontvang. Dis eintlik waarvoor ‘n onderstebo-dag soos vandag vra.

Ek is egter onkant gevang met te min kool, dit sal moet oorstaan. So vandag trek ek my ma se frikadelle ‘n rooirok aan.

Die Hongare maak hierdie heerlike soet-suur stroperige paprika-tamatiesous met sultanas wat hulle by hul tradisionele koolrolletjies ‘holishkes’ eet. Dis mos net die opkikker vir Blou Maandag.

Die rooiroksous maak ek terwyl die frikadelle bak.

Die resep het ek afgeskryf terwyl my Ma Inez dikteer het:

MA SE VAALFRIKADELLE

Vir 1 kg gemaalde beesvleis het jy meer sout nodig as wat jy dink (5 teelepels), neutmuskaat (baie), fyn koljander (genoeg), naeltjies (net genoeg) en peper na smaak. Altyd asyn, 2 eetlepels. ‘n Paar behoorlike skudsels Worcestersous. ‘n Fyngekapte ui, jy kan dit rasper of kap.

Week ‘n dik sny ou witbrood in die melk, korsies hou jy aan. (Hawermout sal werk pleks van brood.) Druk die melk uit, vlok die brood en gooi saam met ‘n geklitste eier by die vleis. Meng liggies deur met die vurk net genoeg om dit te meng, jy wil nie sit met vleiskluitjies nie.

Maak 12 ronde frikkadelle, pak dit in een laag in ‘n gesmeerde Pyrex-bak en stip elkeen met botter. Gooi bietjie water in die bak, dan oond toe sonder deksel vir 40-50 minute. 160°C sal doen.

ROOIROK’ PAPRIKA, SULTANA EN TAMATIESOUS

2 E Canola of sonneblomolie
2 medium uie, fyngekap
1 T vinkelsade, fyngemaal
1 Opgehoopte eetlepel goeie soet paprika (nie die gerookte tipe nie)
Sout en peper
1 klein blikkie tamatiepasta
1-2 E heuning
1 Blik gekapte tamaties
½ koppie sultanas (rosyne kan ook gebruik word)
Sap van 1 suurlemoen
Beesvleisaftreksel – net genoeg om die sous te verdun indien dit te dik kook.

Metode

  • Verhit die olie en braai die uie tot goudbruin en sag, voeg vinkelsade, tamatiepasta en paprika by en prut 2 tot 3 minute – dit moet effe karamelliseer.
  • Voeg  die blikkie tamaties, sultanas, heuning en suurlemoensap by. Prut oor medium-lae hitte met die deksel halfpad op vir sowat 30 minute tot lekker dik. Die sous moet amper soos ‘n loperige blatjang wees. Bedien die sous oor gaar frikadelle.

Wenk: Ek giet die sous oor die gaar frikadelle en steek dit dan weer in die oond vir 10 minute.


Foto’s Ian du Toit

Ek bedien die rooiroksous ook saam met koolfrikadelle

Marmitekoek en Marmite tert-kolwyntjies

25 Aug

Hierdie soet-sout koek verras almal wat dit die eerste keer eet. Dit laat jou verlang na tannies in sitkamers met weelderige muurpapier, pienk tuinrose en ‘n teetafel gelaai met ‘n verskeidenheid kultuurversnaperinge. Dit was die dae van die bordjie soet en bordjie sout, warm worsrolletjies en koue koeksisters, jou Ouma se souttert en jou ma se dadelhappies.

Ek gee hier twee variasies:

– die weergawe op hierdie foto van soet sponskoek wat ‘n Marmite-bottersous oorkry wanneer die koek nog warm is.

Marmite-koek (sponskoek met ‘n Marmite-botter oorgooisous

– Die tweede resep is vir soutige Marmite-kolwyntjie-tertjies sonder suiker in die beslag. Sien laer af.

Resep 1

Marmite-Koek

(Soet sponskoek met marmite-botter bolaag en kaas)

Hier kom parmesaankaas in die koekbeslag! Mieliemeel oor die kors sorg vir ‘n knarserige tekstuur.

Maak 12-16 blokkies of 8 muffin-grootte koekies

Beslag

80 ml botter

180 ml suiker

1 eier

2 ml sout

375 ml bruismeel, gesif

250 ml melk

60 ml fyngerasperde parmesaankaas

Mieliemeel vir oorstrooi

Fyngerasperde Cheddarkaas vir oorrasper

Oorgooisous

125 ml botter

10 – 20 ml Marmite

• Smelt saam in kastrolletjie en hou eenkant.

Maak só:

• Voorverhit oond na 190°C. Smeer en voer ‘n vierkantige 20 cm koekpan met bakpapier. (Jy kan ook ‘n Pyrex-tertbord gebruik).

• Room botter en suiker saam. Voeg eier en sout by.

• Meng die gesifte meel en melk beurtelings by die geroomde mengsel in.

• Gooi mengsel in pan, strooi mieliemeel oor en bak 30 – 35 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom. 

• Haal koek uit die oond, steek gate in en drup die warm bottersous oor. Sny in blokkies of diamantvorm en haal uit die pan. Laat afkoel. Rasper die kaas direk oor die afgekoelde blokkies fyn.

Resep 2

Marmite-tert kolwyntjies uit my boek SAAM. Foto deur Ian Du Toit en stilering deur Hannes Koegelenberg

Marmite-tertkolwyntjies

(Sonder suiker in die beslag)

Hierdie is ‘n slegs-sout weergawe van die Marmite-sponskoek.

Vir iets anders kan jy ‘n lemoenstroop oor die warm koek gooi eerder as die Marmite-bottersous. Die kaas in die beslag sorg steeds vir die sout-soetigheid.

Bak dit in ‘n tertbak of in kolwyntjiepannetjies.

LEWER 1 x 20–22 cm-tert of 9–12 kolwyntjies

BESLAG

120 g koekmeel

10 ml bakpoeier

2 ml sout

rooipeper na smaak (opsioneel)

125 g botter

250 ml gerasperde beleë cheddarkaas

1 eier, geklits

220 ml melk

mieliemeel of polenta, vir oorstrooi

Maak só:

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n tertbak met deursnee 20–22 cm of ’n kolwyntjiepannetjie.

Sif die meel, bakpoeier, sout en rooipeper, indien gebruik, saam. Vryf die botter met die vingerpunte in die meelmengsel. Roer die kaas by.

Klits die eier en melk saam en voeg by die meelmengsel, meng deur.

Skep in die voorbereide tertbak of kolwyntjiepannetjie, strooi mieliemeel oor en bak 20 minute (kolwyntjies) of 30 minute (tertbak), tot ’n toetspen skoon uitkom.

MARMITE-LAAG

15–30 ml Marmite

55 g botter

Smelt intussen die Marmite en botter saam. Wanneer die tert uit die oond kom, steek gate in met ’n vurk en drup die warm sous oor. Sny in blokke en eet warm.

Opsioneel: strooi fyngerasperde kaas liggies oor wanneer die koek afgekoel het.

VARIASIE

Vervang Marmite-sous met lemoenstroop: Verhit 100 g suiker, 125 ml vars lemoensap en gerasperde lemoenskil saam tot die suiker opgelos is, kook 3 minute en giet oor die warm koek.

Marmitetert-kolwyntjies- die perfekte bordjie-sout happie.