Broccoli kamma-couscous slaai met lieflike kruie

14 Oct

Broccoli en Brusselse spruite. Nie juis iets wat op die lys van “Lekkerste Dinge Ooit” sal verskyn nie. Ek het nie veel fiemies as kind gehad nie en het geëet wat op my bord was. Maar selfs al het my ma dit onder ‘n kombers van kaassous verberg, het ek langtand deur dié groen goed gewroeg. “Monsters se kos,” het ek gedink.

Van bitter-groengoed tot broccoli kamma-couscous-slaai

Van bitter-groengoed tot broccoli kamma-couscous-slaai

Ons fiemies is nie altyd logies nie. Ek het blomkool verslind. Selfs spinasie het van my bord verdwyn sonder aanmaning van Ma of Pa. Hoe dit ook al sy, ek het gelukkig my nonsens laat staan en uit my fiemies gegroei. Maar ek verstaan die kleintjies wat kerm. Ek onthou nog die media-storm wat losgebars het om die kop van President George Bush destyds toe hy verklaar het:  “Ek hou nie van broccoli nie. Ek hou van my kleintyd nie daarvan nie ; my ma het my dit gemaak eet. En nou is ek die President van die VSA en ek gaan NIE meer broccoli eet nie.” (Obama sou daarvoor opmaak deur te verklaar dat dit sy gunsteling groente is.)

Die geleerde mense skryf die fiemies van sommige mense vir sekere groente soos brocolli toe aan genetika; ‘n spesifieke geen  (TAS2R38) wat jou persepsie van bitter smaak beinvloed.

‘n Ander verklaring is dat ons deur evolusie gekondisioneer is om instinktief bitter plante te vermy, omdat bitterheid ‘n aanduiding kan wees dat ‘n plant toksies is, vertel ‘n navorser aan die Universiteit van Pennsylvania in die Huffington Post.  “Of, dalk is dit net sommer omdat groente te lank gekook is in water tot dit pap en onaptytlike vaal is!” Dis dan seker instinktief dat ek altyd op die uitkyk is vir opwindende maniere om groente voor te sit. Soos nou weer vir hierdie resep vir broccoli-‘couscous’, ‘n kraakvars slaai wat met gerasperde rou broccoli gemaak word.

Krakerig. Vars. Geurig van die kruie. Harmonie tussen soet, suur, bitter en sout.

Krakerig. Vars. Geurig van die kruie. Harmonie tussen soet, suur, bitter en sout.

Dit het my oog gevang omdat dit my laat dink het aan ‘n slaai wat ek maak met broccoli, druiwe en pekanneute. Wat die broccoli-couscous slaai besonders maak is dat die rou broccoli fyngerasper word vir ‘n heerlike tekstuur. Die kombinasie van handevol fyngekapte pietersielie en kruisement, tesame met rosyne en geroosterde dennepitte is ‘n wenner. Dit het selfs vinniger van die bord verdwyn as die lamstjoppies!  Die geure van die kruie veral herinner my ietwat aan die Midde-Oosterse tabbouleh. Dankie Ma en Pa dat julle deurgedruk het om ons bloot te stel aan soveel verskillende smake. Vandag pluk ek die vrugte daarvan.

Brocolli kamma-couscous met lamsrak.

       Brocolli kamma-couscous met lamsrak is ‘n perfekte smaakkombinasie.

BROCCOLI KAMMA-COUSCOUS MET KRUISEMENT EN PIETERSIELIE

Heerlik met lamsvleis.

Bedien 4

 1 groot kop broccoli, goed afgewas en gedreineer (hou heel)

40 – g rosyne, geweek in warm water tot uitgeswel (ek verdubbel dit en gebruik ook soms geweekte bosbessies/cranberries(

40 g geroosterde dennepitte (kan ook amandels, pekanneute of okkerneute gebruik) Ek gebruik meer vir ‘crunch’

40 g fyngekapte vars kruisement

40 g fyngekapte pietersielie

Sap en skil van 1 suurlemoen

125 ml olyfolie

5 – 10 ml suiker (proe om seker te maak vir die balans)

Sout en peper

Metode Rasper die broccoli se groen dele tot net op die stingel. (Jy kan dit ook in twee sarsies verwerk met  ‘n voedselverwerker – pols versigtig tot die tekstuur soos couscous lyk. Plaas in in slaaibak en gooi die rosyne, neute, kruisement en pietersielie by. In ‘n flessie, skud die suiker, suurlemoenskil, suurlemoensap en olie saam en giet oor die slaai. Geur met sout en peper.

Variasies:

  • Voeg gerasperde appel, gedroogte bosbessies en okkerneut by die broccoli-couscous en bedien met ‘n romerige joghurt- en mayo slaaisousie.
  • Breek broccoli in stingels op en voeg rooi druiwe, pekanneute en rooi uie by. Bedien met ‘n mayonnaise slaaisousie, gegeur met wit of rooi balsamiese asyn en ‘n bietjie suiker vir die soet-suur balans.
  • Geskaafde brusselse spruite met pecorino en amandel.

                                          Geskaafde brusselse spruite met pecorino en amandel. (uit Bottega)

 ‘N LEKKER IDEE MET ROU BRUSSELSE SPRUITE

 Skaaf die brusselse spruite versigtig op ‘n mandolien in dun skaafsels (hou dit aan die stingels vas). Meng dit met:

  • Hardgekookte eiers, deur ‘n sif gedruk
  • Geroosterde amandels, fyngekap
  • Gerasperde pecorino
  • Sout en peper
  • ‘n Vinaigrette van suurlemoen, lemoen, fyngekapte salotte of rooi uie, en heelwat vars gemaalde swart peper.

Laat ‘n rukkie in die yskas staan en bedien koud.

Bronne:

“Why do some people love broccoli and others hate it?” www.Huffingtonpost.com

Smashing Plates, Maria Elia. Kyle Books.

Bottega, Michael Chiarello. Chronicle Books.

VLV Patat-Vyekoek met neute

8 Oct

“I bake. What is YOUR superpower?”

Ek sien hierdie stelling op ‘n t-hemp. Ons het ‘n ryk bakkultuur gehad, wat gelukkig nou weer herontwaak. Soetgebak, soos koeke en kleinkoekies, veral kolwyntjies is op almal se lippe. Ek onthou die ryk speserykoeke, die lemoenkoeke en veerligte chiffonkoeke wat my ma op haar dag gemaak het; die basaarkoeke, Kerskoeke en verjaarsdagkoeke. Deesdae bak ons almal hummingbird-koeke en rooifluweelkoeke, maar ek geniet steeds die ligte Victoriaanse sponskoek met room en aarbeikonfyt wat my ma so moeiteloos gemaak het.

Erika Lubbe van die VLV Kapland se Patat en Vye neutekoek.  Foto Kokkedoor Versamelresepte

Erika Lubbe van die VLV Kapland se Patat en Vye neutekoek.
Foto Kokkedoor Versamelresepte

Al het ek ‘n biblioteekvol van my eie kookboeke, en uit tydskrifte versamel, bly dit die resepte wat ek persoonlik van ‘n vriendin kry of ‘n bakfoendi, of iets uit my jeug wat die kosbaarste bly. So ‘n resep is een wat ek van Erika Lubbe gekry het – sy is baie betrokke by die VLV Kaapland. Die resep is ook opgeneem in die kookboek Kokkedoor Versamelresepte.

VLV PATAT EN VYERINGKOEK

125g botter

210g geelsuiker

2 groot eiers

250ml gaar patat fyn gedruk

250ml groenvye gedreineer en in stukke gesny

60ml groenvyestroop

270g bruismeel

100g pekanneute, gekap

5ml fyn gemmer

1ml sout

Versiersel

100g botter

210g versiersuiker

5ml vanieljegeursel

100g gladde maaskaas

4 gemmerkoekies

Metode

  • Voorverhit oond tot 180C.
  • Room botter en suiker tot lig. Voeg die eiers een op ‘n slag by en meng goed na elke byvoeging. Roer die patat en stroop by en daarna die stukkies vye. Meng die meel, neute, gemmer en sout. Roer dit by die bottermengsel en skep in die bereide koekpan.
  •  Bak in voorverhitte oond vir 1 uur of tot toetspen skoon uitkom. Laat afkoel.
  •  Klop botter en versiersuiker. Voeg vanielje by en vou die roomkaas in tot goed gemeng. Smeer oor die afgekoelde ringkoek en versier met neute, stukkies vy en fyn gemmerkoekies.

Braai-aartappels van alledaags tot adellik

1 Oct

Sondag-braaiaartappels. Kan daar ‘n mooier gesig op aarde wees as ‘n skottel gelaai met bros aartappels, die kors uitlokkend met soutige krakerigheid. Die binnekant soos om in ‘n wolk te byt.

Braai-aartappels met 'n verskil op my Sondagtafel.

Braai-aartappels met ‘n verskil op my Sondagtafel.

Braaiaartappels het ook gewoonlik ‘n maat wat bevestig dis Sondag: braaiboud, Sondaghoender, enige vleis wat in die oond gebak word. Ek hoef eintlik niemand te vertel hoe om dit te maak nie, want jou eie ma of ouma se braaiaartappels is die beste.

Ek het ‘n paar vriende in die koswereld uitgevra oor hul braaiaartappel-herinneringe en hoe die perfekte braai-aartappel proe. Oor een ding stem almal saam – en dit is dat die perfekte braai-aartappel ‘n softy aan die binnekant is, met ‘n goudbruin baadjie van bros, krakerigheid. Dis die kontras in tekstuur wat  braaiaartappels verhef van iets alledaags tot adelliks.

Die gemene deler as dit by die kenners se raad kom is:

  • Om die aartappels eers vooraf te kook tot halfgaar; te dreineer en af te droog;
  • Om die aartappels bietjie te krap met ‘n vurk of dit in die pan te skud. Dit gee ‘n growwer oppervlakte en dis daai losserige stukkies wat die kors so krakerig maak.
  • Om die pan waarin die aartappels gebraai gaan word eers goed warm te maak – dit gee die braaiproses ‘n ‘head start.’
  • Om as jy jou hand op gansvet of eendvet te lê, jouself te treat – dit maak die geurigste, goudbruin braaiaartappels denkbaar; of gebruik sagte skaapvet.
  • Om die geskikte soort aartappel te gebruik, maar wie het maklik toegang tot blus-aartappels of Sandveldaartappels?
  • Om die aartappels aanvanklik met fyn sout te geur as dit in die oond ingaan, en daarna af te rond met goeie seevlokkies.

Ek het ook geleer dat dit goed is om die aartappels eers ‘n ruk in water te week om van die stysel ontslae te raak. Ander weer kook die aartappels eers ongeskil, en trek dan die skille af. By Ma het ek geleer om bietjie borrie of selfs klein bietjie kerriepoeier by die aartappels te sit om die goue kleur op te rev. By Nigella het ek geleer om bietjie semolina oor die aartappels te sprinkel.

Fondant aartappels stifado-styl

Fondant aartappels stifado-styl

‘n ANDER MANIER – BESTE VAN TWEE WERELDE

As braaiaartappels reeds so volmaak is, hoekom torring? ‘n Verandering is so goed soos ‘n vakansie en hierdie resep vat jou nie net op ‘n smaaktoer nie, maar lyk mooi.  Fondant is bloot die Frans vir sag. Dit verwys na ‘n tegniek om aartappels deels te braai en deels in ‘n geurige aftreksel gaar te maak. Hierdie Youtube video is ‘n lekker-kyk  voorbeeld hoe om dit te maak:

 http://m.youtube.com/watch?v=XOatJPocjDo

Ek het egter in die Griekse kookkuns gaan loer, want hulle is net so lief om aartappels saam met hulle skaapboud gaar te maak. Ek het die perfekte bykos vir ons Sondag-ete gevind in Smashing Plates van Maria Elia. Sy noem dit Stifado Fondant aartappels en ek noem dit ‘Onder sag en bo bros braaiaartappels’. Die Griekse herkoms word verder verklap deur die kaneelgegeurde rooiwynaftreksel waarin dit gaar word, soos die Griekse stifado – ‘n beesvleisstowegereg wat tipies met wyn, kaneel en lourier gegeur word.

Die fondant-braaiaartappels toring bo die ander kos uit. Ek het die Mediterreense styl kos op 'n roti geskep om al die souse op te vang!

Die fondant-braaiaartappels toring bo die ander kos uit. Ek het die Mediterreense styl kos op ‘n roti geskep om al die souse op te vang!

ONDER SAG EN BO BROS BRAAI-AARTAPPELS 

100 ml rooiwyn

200 ml hoenderaftreksel

1 pypkaneel

1 lourierblaar

4 groot aartappels, geskil

2 knoffelhuisies, gekap

2 takkies tiemie

50 g botter

Opdien:

Paar spatsels rooiwynasyn (opsioneel)

Handvol swart Kalamata olywe, pitte uitgehaal, grofgekap

Metode:

  • Voorverhit oond tot 190C.
  • Verhit die rooiwyn, hoenderaftreksel, kaneel en lourierblaar tot dit begin kook.
  • Sny die aartappels in silinders – sowat 3,5 cm diep. Een aartappel hoort jou 2 sirkels te gee. Druk die aartappelsirkels met ‘n koekiedrukker sodat dit  ‘n mooi uniforme vorm en grootte het.
  • Pak die aartappels in ‘n vlak oondpan, klein genoeg sodat die aartappels snoesig in pas. Gooi die rooiwynaftreksel in die pan, net genoeg om die aartappels halfpad te bedek. Plaas die lourierblaar en pypkaneel in die pan, en ook die knoffel en tiemie.
  • Sit ‘n klontjie botter bo-op elke aartappel en bak sowat 50 minute in die oond tot die aartappels die meeste van die aftreksel absorbeer het. Skep halfpad deur die bakproses van die pansouse oor die aartappels. Die baktyd gaan afhang hoe dik jou aartappels is. As die aartappels nog nie sag is onder wanneer die vog reeds op is nie, vul aan met ‘n klein bietjie ekstra aftreksel.
  • Haal uit die oond, meng die gekapte olywe, pietersielie en rooiwynasyn (opsioneel) deur die aartappels. Bedien vuurwarm.

KENNERS EN HUL RAAD

Arina du Plessis, kookboekskrywer en kosredakteur Landbouweekblad:

My herinneringe aan braai-aartappels is Sondagmiddag-etes by die Hamlet hotel op Prince Alfred’s Hamlet of Belmont Hotel op Ceres saam met my ouers en broers. Op die Sondag buffet was daar altyd ‘n heuwel perfekte goue aartappels. As ons laat daar gekom het, was daar al ‘n duik in die heuwel en dan het die aartappels se bros korsies al taai geraak – maar vir my was dit dan eers lekker!

Ek hou van ‘n dikkerige bros buitelaag en die binnekant moet ‘fluffy’ en sag wees.   Begin met blusaartappels (ek glo Sandveldaartappels is die lekkerste). Kook halfgaar, dreineer goed en druk droog. En ek weet dis vreemd, maar ek sprinkel fyn sout voor ek dit braai, en seesoutvlokkies agterna.

  • Gansvet bly maar die beste om daardie goue, bros jas te kry.

Carmen Niehaus,  kosredakteur van Huisgenoot en die Wenresepte-koningin

Braaiaartappels saam met Sondagbraaiboud – dit was elke Sondag op tafel saam met al die familie, sommer so 20 stuks tegelykertyd. En daar kon nooit genoeg aartappels wees nie – bros bros bros buite-om en moes-sag binne. Die lekkerste braaiaartappels is gemaak met aartappels vars van die land (Up to date as ek reg onthou) so vars dat mens nog amper die grond kon proe. ‘n Groot emaljekom aartappels is baie keer al Saterdagaand netjies geskil en het in water gelê en wag vir Sondag se grooteet. Pa het baie maal kom hand bysit met sy knipmes. Vroegoggend is die bakke aartappels al in die oond gedruk – enkellaag, lekker baie fyn sout oorgesprinkel en Lena was ook nie skaam met die olie nie. Die is gereeld met ‘n eierspaan omgedraai sodat hulle alkant kon bruinbraai en bros wees. Soms is daar uit tyd gehardloop, dan  is die aartappels vooraf eers bietjie gekook, dan geskud om die buitekant so bietjie fluff te gee en dan was  dit oond toe met lekker baie olie oor.

  • Lekker wenk is om die oondpan vooraf eers warm te maak voordat jy die aartappels insit.

Daleen van der Merwe: Kookboekuitgewer, Human & Rousseau.

My herinneringe aan braai-aartappels is Sondag met heel braai-hoender of deurnag gebraaide Skaapboud.Braai-aartappels en skaapboud is onafskeidbaar. Braaiaartappels moet ‘n sy-sagte binneste he en ‘n goudbruin brosgebraaide buitekant.

  • Kook die aartappels tot half gaar. Skil dit en skraap dit met ‘n vurk. Braai dit in skoon skaapvet of eendvet vir ‘n besonderse smaak en perfekte bros buitelaag.

Vickie de Beer: Kosredakteur Rooi Rose, stilis en kookboekskrywer

Braai-aartappels is ons groot bederf vir spesiale geleenthede.  My ma se braai-aartappels:

1 kg aartappels, geskil en net-net saggekook. Halveer elkeen in die lengte.  Krap die sykante met n vurk. Gooi in n groot oondpan met olyfolie en geur met Maldon sout. Meng deur. Stip met botter en braai in die oond teen 200 °C tot goedkleurig en krakerig!

Theresa De Vries: Kokkedoor onthoukok-naaswenner

As jy nie eendvet het nie, uitgebraaide sagte vet van skaap of bees is net so goed. Beste resultate as jy dit in die oond bak en gereeld omdraai, maar die geheim is maar om dit dadelik te eet, dit raak weer sag as dit staan.

Veralda Schmidt:  Smulpaap met ‘n tuis-bistro

Ek maak Roald Dahl se braaiaartappels.  Skil en kook hulle vir so 10 minute. Sit die oondbak met olie onder die rooster – natuurlik gebruik hy eendvet, maar ek gebruik sonneblom olie en gooi roosmaryn blare in. Sit die warm halfgaar aartappels versigtig in die olie laat dit nie spat nie en bak tot bruin – ek draai dit om want ek hou nie van diepvet nie.

My ma se skaapboud en gabakte aartappels is natuurlik iets om oor huistoe te skryf, soos almal se ma’s s’n.  As die aartappels in dieselfde skottel as die vleis gaar word, proe alles vir my naderhand dieselfde en is al wat lekker is,  die nostalgie.  Daar is altyd die een wat nie ‘n stukkie gebakte aartappel kan weerstaan voor ete nie.  My oupa Jackie Bezuidenhout se suster het eendag so ‘n warm aartappeltjie in haar kies gedruk toe almal se oë al toe was, maar oupa het haar gesien.  Doodonskuldig vra hy toe “Sus, sal jy vir ons dank”, dit was vinnig sluk en brand al die pad onder toe en om nog ‘n gebed uit te kry.  Voorwaar ‘n ‘hot potato’.

Dis nou 'diep lekker'.

Dis nou ‘diep lekker’.

Johnny Hamman: Kokkedoor 2 Kinkelkok-wenner:

Par-boil. Butter poach.Deep fry.

Nicolene Burger: Facebook-kosvriendin

Kook aartappels tot amper gaar, krap gleufies in met vurk om stysels bietjie los te kry, braai pragtig bros. Ina Paarman het ons as studente geleer om bietjie borrie om die aartappel te smeer voor ons dit bak vir ‘n mooi kleur

Elizabeth Dockel: Facebook kosvriendin

Ek gebruik maar Nigella se resep: kook aartappels wat geskil en in 3 gesny is vir 4 minute, haal uit , dreineer in vergietes. Maak gansvet of iets soort gelyks warm in die oond tot baie warm, dis belangrik en plaas aartappels wat met bietjie semolina bestrooi is, in warm vet. Wees vesigtig, dis warm! Bak tot goudbruin in oond, ongeveer 25 minute aan elke kant, oond moet maksimum gestel wees 250 grade.

Ilse Roggeband: Facebook-vriendin, skrywer en boekemens

My ouma Suzie Schietekat kon baie goed kook. Ons het gepraat van ouma se skoon aartappels en vuil aartappels. Skoon aartappels was die wat sy in olie in die oond gemaak het en vuil aartappels was die aartappels wat saam met ‘n stuk beesvleis in ‘n pot gaargemaak het. Ek maak my oondaartappels so gaar: Kook geskilde aartappels vir ‘n paar minute tot die randjie sag is, gooi water af, sit deksel op kastrol en gee ‘n goeie paar skudde (is dit meervoud van skud?). Bak dan in olie wat reeds in die oond in ‘n oondpan warm gemaak is.

Roosterkoek en sjokolade-stokbrood op Erfenisdag

24 Sep

Om in ‘n roosterkoek te byt, warm van die vuur af en druppend van die botter, is om ‘n hap van ons land se kultuur te vat.

Roosterkoek met botter, kaas en konfyt. So proe erefenis. (Foto: Huisgenoot)

Roosterkoek met botter, kaas en konfyt. So proe erefenis. (Foto: Huisgenoot)

Wys my nog ‘n brood wat sy eie vastrapwals het.  Die legendariese David de Lange en die Welgens orkes se Roosterkoek setees uit die 1930’s vat mens ver die verlede in. Roosterkoek doen dit aan jou – jy wil inhak by ‘n nefie vir ‘ek soek na my Dina’ of die askoek-riel skoffel; jy wil proteas in die voorhuis rangskik, biltong kerf en jou eie botter karring.

Gaan loer maar by kultuurfeeste, kunstefeeste en ‘n boerebasaar – daar waar dit saamdrom is waar die roosterkoeke oor die kole gaargemaak word. Roosterkoek is ons almal se tradisie, of jy nou van die Richtersveld, Kamieskroon of die groot stad af kom.

Roosterkoek is die mees geduldige, mees onpretensieuse gebak ooit. Hy vra bykans net meel, water en sout. Hy’s aanpasbaar genoeg dat jy selfs in ‘n oomblik van nood kan kortpad vat met  bruismeel eerder as die tradisionele ingis en lank rys, soos my 4×4 buitelewe broer Charlie maak (hy gooi in die veld ‘n pakkie wit uiesoppoeier ook by die meel, maar ek trek daar die streep).

Roosterkoek sal selfs oë toeknyp as jy die sagte bolletjies deeg in ‘n riffelpan op die stoof gaarmaak  vir ‘n kamma-weergawe. Maar hy vra net een ding en dis om behoorlik gaargemaak te word. Rou wil ‘n roosterkoek nie van die vuur afkom nie. Hy moet hol klink as jy hom op die rug klop en lekker lig in die hand. Maak hom op ses kante gaar (bo, onder en al vier sye) as jy twyfel.

Eet dit met botter en konfyt en smeer vir die mens wat langs jou om die braaivuur sit ook ene.

Hier is Dine van Zyl se resep uit haar Groot Boerekos Boek

1 kg witbroodmeel

10 g (1 pakkie) kitsgis

10 ml suiker

2,5 ml sout

500 – 600 ml louwarm water

15 ml gesmelte botter

Ekstra meelblom om oor te strooi

Meng die meel, kitsgis, suiker en sout. Voeg die louwarm water by, Meng die deeg deeglik en knie vir 10 minute tot die deeg loskom van jou hande.

Vorm ‘n ronde bal, smeer gesmelte botter oor en sit dit terug in die deegkom. Trek kleefplastiek oor en sit dit op ‘n warm plek om te rys tot dubbel die grote. Knie die deeg af en vorm bolle. Druk dit effens plat en strooi meel oor elkeen. Laat dit weer rys tot dubbel die grootte.

Rooster die kole stadig tot dit gaar is.

Sjokolade Stokbrood-bederf

Kinders is mal oor die brooddeeg wat om ‘n stukkie gedraai word en hulle dan self oor die vuur kan gaarmaak.  Rol jou klaar deeg uit tot 2 cm, sprinkle gekapte melksjokolade oor en druk dit met die plathand in die deeg in. Sny die deeg in 4 cm stroke en draai om die stokke. Braai tot goudbruin terwyl die stokkie gedraai word. Bedien met grondboontjiebotter.

Biltong en kaas-roosterkoeke

Ek het die lekker idee gekry uit Sarie Kos. Klaargemaakte winkelbrooddeeg word ingespan.

Vat 1 kg winkeldeeg en verdeel dit in 8 stukke.  Hou 200 g gerasperde cheddarkaas reg en 150 g gekerfte sagte biltong. Druk die deeg effe plat op ‘n meelbestrooide oppervlakte.  Plaas  kaas en biltong  in die middel van elke deegstukkie. Nou vou jy die deeg  toe van buite af na die middel toe. Die triek is is om die kant wat nou bo is, na onder op ‘n meelbestrooide bakplaat te sit. Laat dit vir sowat 15 minute in ‘n warm plek rys tot die roosterkoeke dubbeld so groot gerys het. Die biltong- en kaasgevulde roosterkoeke braai jy dan oor koel kole (‘Jy moet jou hand sowat 20 cm bo die kole kan hou vir 8 sekondes, dan’s dit reg’, skryf Barbara en Herman.) Dit moet stadig braai tot goudbruin en gaar – en sal jou vertel dis gaar wanneer dit hol klink.david

Sjokolade Stokbrood-bederf

Kinders is mal oor die brooddeeg wat om ‘n stukkie gedraai word en hulle dan self oor die vuur kan gaarmaak.  Rol jou klaar deeg uit tot 2 cm, sprinkle gekapte melksjokolade oor en druk dit met die plathand in die deeg in. Sny die deeg in 4 cm strook en draai om die stoke. Braai tot goudbruin terwyl die stokkie gedraai word. Bedien met grondboontjiebotter.

Lewerkoekies

17 Sep
My lewerkoekies met byderwetse sousie

My lewerkoekies met byderwetse sousie

‘n Smaak wat by my spook is die heerlike warm lewerkoekies van die kafeetjie langs Pep Stores in Prins Albert se hoofstraat. Reg oorkant die statige kerk.

Dis ‘n propperse plattelandse kafee waar mense aandoen vir die oggendkoerant, tabak dalk ook en lekkers vir die kinders. Ek sal altyd daaraan dink as Die Plek van die Lewerkoekie. Die werklike naam was tot onlangs Wimpels kafee. Ek hoor by ‘n dorpenaar Annelie Rabie dat die kafee nuwe eienaars en ‘n nuwe naam Sommerso het . Die lewerkoekies het gebly – en gelukkig is die resep onveranderd.

My ander lewerkoekie-herinneringe is my ma Inez wat die lewerstukke bo in die vleismeultjie invoer saam met die uie en die gemaalde stukkies so wirrel-wirrel aan die voorkant uitpeul. Dan in die mengbak, bietjie dit, bietjie dat en die lewerkoekies was op die tafel. Ek kon nie genoeg kry nie. My ma se resep was baie eenvoudig, met ‘n baie slap lewerdegie: 500 g lewer, 1 ui, 1 e asyn, 10 mℓ sout, 5 mℓ peper, 2 geklitste eiers. Dis dan in hopies in warm vlak olie gebraai tot bruin. Ons het dit verslind met kapokaartappels, of sommerso koud met brood en baie botter. Soms het ma die tamatiesousbottel uitgehaal.

Een van die lewerkoekie-resepte wat gelukkig nog die rondte doen en met baie deernis gemaak word, is die resep van Esme en Jan, wat vir jare ‘So Maak Mens’ op Springbokradio aangebied het. Ek hoor al vir Jan sê “1 kg gemaalde skaaplewer” en Esme wat herhaal: “1 kg gemaalde skaaplewer”… Ek gee die resep, maar wonder self bietjie oor die baie bakpoeier, en reken dis nogals baie aartappels – maar so rek mens die vleis.

‘SO MAAK MENS’ LEWERKOEKIES

1kg gemaalde skaaplewer

4 groot aartappels gerasper

2 uie gerasper

2 eetlepels asyn

1 koppie koekmeel gesif

2 eiers

6 teelepels bakpoeier

sout en peper na smaak

Metode: Meng alles goed saam. Bak in bietjie olie tot gaar. Dit vries ook goed.

(Dankie Stompie Theron Borman dat jy die resep onder my aandag gebring het).

BRANDVLEI SE LEWERKOEKIES

Theresa de Vries van ‘n plaas in die Brandvlei-distrik is ‘n geoefende hand. Sy gebruik semels inplaas van die meel, wat sorg dat die lewerkoekies heerlik sag en lig is en jy nie bakpoeier hoef te gebruik nie.

1 kg lewer

200g sagte vet of vetderm,

1 hart of 250g maalvleis,

2 aartappels

1 groot ui

2-3kop semels beslag moet gebind wees daarmee),

4 eiers

12,5 mℓ fyn sout

30 mℓ Worcestersous,

2 t swart peper.

Maal alles behalwe die eier en semels. Voeg geklitste eier by en voeg semels by tot beslag gebind is maar nie styf nie, dit moet nog van die lepel afdrup. Skep dessertlepelsvol in vlak olie en bak beide kante tot bruin en gaar. Bedien met kapokaartappels.

HUISKOK SE LEWERKOEKIES

Waar op aarde gaan jy teen R29.99 per kg so ‘n lekker vleismaaltyd kan voorsit. Ek het uitgewerk dit kos net so oor R1.15 per lewerkoekie!

Maak sowat 30 medium groot lewerkoekies

1kg gemaalde skaaplewer (vra slagter om dit te maal, maar eers die are en geite uit te sny)

2 groot aartappels, gerasper

2 medium uie gerasper

2 eetlepels asyn

Skil van 1 suurlemoen

30 mℓ Worcestersous

1 koppie bruismeel,

3 eiers, geklits

Slaaiuie (sprietuie) fyngesny (of pietersielie)

10 mℓ sout of meer

5 mℓ peper

Paar skudde wonderpeper (allspice)

Olie vir braai (ek gebruik Olive Pride se olyf- en saadolie mengsel)

Metode: Meng alles goed saam. Braai in vlak olie tot gaar. Bedien warm. Ek sit dit voor met soetrissiesous, of blatjang. Volgraanbrood of aartappelkluitjies (gnocchi) met bruinbotter, salie en dennepitte.

WAT EK VOLGENDE GAAN MAAK:

Hierdie ou resep van SH Van Tulleken uit The Practical Cookery Book for South Africa is beslis wat ek volgende gaan maak. Ek is seker almal wat hulle monde trek vir lewer gaan heerlik saamsmul.

Smelt 3 teelepels botter oor die vuur, en roer 2 lepels meel by, en voeg geleidelik 1 koppie melk by. Kook die lewer vooraf vir 5 minute en maal dit dan met ‘n paar repe spek en 1 lepel fyngekapte pietersielie en 1 eetlepel fyngekapte uie. Voeg sout, peper en 1 lepel suurlemoensap by. Meng dit in by die witsous en laat afkoel. Vorm in koekies, doop in eier en krummels en braai in vet (‘drippings’)

Wenke:

  • Ons Nama kok het altyd lemoenskil by die lewermengsel gerasper. (Nicolene Burger)
  • Lewerkoekies vra om voorgesit te word met kapokaartappels, ertjies en beetslaai (Marika Moore)

 

Diplomaat broodpoeding vir die lente

10 Sep

Ons is almal lief vir broodpoeding, maar met die lente hier wil ‘n mens nie die winter teruglok met ‘n warm poeding nie. Wat hierdie broodpoeding besonders maak, is dat dit koud bedien word.  En dit is by diplomaat-dinees voorgesit, so dis genoeg vir gaste of Sondagkos.

diplomaat poeding voor en na omkeer

Laat ons stilstaan by die naam. Dis ‘n algemene verskynsel dat gebak en poedings dikwels vernoem word na staatmanne, politici, diplomate en staatsinstansies: van burgemeesterspoedings tot kabinetspoeding.

Daar is verskeie stories oor die diplomaatpoeding:

  • Dis blykbaar in 1908 voorgesit by ‘n diplomatieke konferensie in Hongarye – en die afgevaardigdes het so baie daarvan gehou dat die sjef dit gepubliseer het.
  • Die ander teorie is dat die verwys na ‘n beroemde Russiese diplomaat wat dol was oor Britse poedings.

    Baie, baie lekker gebakte poeding vir die lente. Elegant, maar maklik.

    Baie, baie lekker gebakte poeding vir die lente. Elegant, maar maklik.

Resep: Diplomaatpoeding

Wat hierdie broodpoeding anders maak is dat die broodblokkies met versiersuiker oor in die oond gebak word tot bros. En natuurlik, dat dit uit die vorm gehaal word en koud bedien word. Die brandewyn of rum gee werklik ‘n heerlike aksentgeur aan die poeding – nie ‘n alkoholsmaak nie.

Poeding:

4 snye, goeie kwaliteit brood, korsies verwyder

Versiersuiker, vir oorsif

20 ml goue sultanas  of mengsel van sultanas en goue rosyne (ek het ‘n mengsel van opgekapte gedroogte perskes, pere en versuikerde gemmer gebruik)

60ml brandewyn of donker rum, of paar druppels rumgeursel

Appelkooskonfyt, warm gemaak vir glaseersel

Vla:

250ml melk

250ml klitsroom

150g strooisuiker

4 eiers

1 vanieljepeul se sade, of 5 ml vanielje geursel (die melk kan ook met perskeblare gekook word)

Botter, vir smeer

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180C
  2. Sny die brood in groot blokke, versprei in ‘n bakplaat en sif versiersuiker oor. Bak in die oond tot bros en krakerig. Haal uit en verminder die oondtemperatuur na 140C.
  3. Plaas die rosyne en sultanas in ‘n kastrolletjie, bedek met koue water, bring tot kookpunt en dreineer. Voeg rum of brandewyn by en laat afkoel.
  4. Vir die vla: meng die melk, room, strooisuiker en eiers in ‘n groot mengbak en gooi deur ‘n sif. Roer die vanieljesaad of ekstrak by en hou eenkant.
  5. Smeer 6 ramekins en 6 stukke alumininiumfoelie wat groot genoeg is om oor elke bakkie te pas.
  6. Roer die broodblokkies by die rosyntjie/sultana- en rum mengels in en verdeel dit tussen die ramekinbakkies. Skep die vlamengsel bo-oor, plaas die gesmeerde foelie bo-oor en plaas in ‘n waterbad.
  7. Bak vir 30 – 40 minute tot geset. Laat afkoel en plaas in yskas.
  8. Wanneer reg om te bedien, keer die poedings uit en glaseer met ‘n bietjie warm appelkooskonfyt.

Broodpoeding in die geskiedenis

Bykans elke koskultuur het ‘n nagereg wat spaarsamig van ou brood of koek gebruik maak.

Nie dat dit altyd as ‘rieme-dunsny’ poeding gesien is nie, want in die boek Puddings, A Global History deur Jeri Quinzio word uitgewys dat dit as ‘n heel elegante en duur gereg begin het. In ‘n 14de eeuse Franse huishouding is dit gemaak van brood en koekies met rosyne, appels, amandelmelk, saffraan en suiker. Dis egter nie gebak nie; die gekookte amandelmelk is oorgegooi en dan gelaat om te stol.

Krummels is ook dikwels gebruik in plaas van die brood – ons eie poedingskatkis het vele resepte; selfs die smulpaap Louis Leipoldt verskaf heelwat variasies van broodkrummels wat met soetmelk gemeng is en dan met botter opgekook is – dis  laat staan vir ‘n uur en die suiker, eiers, sout, neut en gerasperde suurlemoenskil bygeroe; in die vorm gesit en in die oond gebak.

Hy vertel van ‘n selfs eenvoudiger boodpoeding wat met die ‘kruin van ‘n taamlik ou bruin brood’ gemaak is. Pleks van melk is water en klontjie botter bygevoeg, bruinsuiker, gemmer, korente en ‘n grypie nartjieskil. Dis in ‘n poedingvorm gestoom en bedien met botter-en-suurlemoensous. “Beter gestoom as gebak,” reken hy.

*Queen of Puddings, ‘n resep wat in Mev SH Van Tulleken se Practical Cooking for SA verskyn, maak gebruik van broodkrummels en die vlamengsel. Dit word dan bedek met ‘n konfytlaag en geklitste eierwit – koninklik voorwaar!

Bedien hierdie toebroodjiepoeding op 'n koel lentedag of wanneer jy na jou skooldae verlang met 'n skeppie roomys.

Bedien hierdie toebroodjiepoeding op ‘n koel lentedag of wanneer jy na jou skooldae verlang met ‘n skeppie roomys.

Grondboontjiebotter en jêm toebroodjiepoeding

Die konsep van toebroodjie-brood en botter-poedings is niks nuuts nie. In die 19de eeu is daar dikwels na verwys as ‘sandwich puddings’.  Die nostalgiese smaak van grondboontjiebotter-en-konfyf (of goue stroop) toebroodjies herinner aan  ons skoolda.

4 1/3 koppie growwe grondboonbotter

8 dik snye dag-oud witbrood

1/3 koppie frambooskonfyt of appelkooskonfyt

Botter, saggemaak, vir smeer

250 ml slagroom (whipping cream)

160 ml melk

3 eiers + 1 eiergeel

80 g strooisuiker

5 ml vanieljegeursel of sade van 1 vanieljepeul

Bruinsuiker (Demerera) vir sprinkel

Metode:

Voorverhit die oond tot 160 C. Smeer twee snye met grondboontjiebotter aan die een kant en sit twee snye bo-op. Smeer nou die ander twee snye met konfyt en plaas oorblywende twee snye bo-op. Sny die korsies af, sny elke toebroodjie in 4 kleiner toebroodjies (dus blokkies, nie driehoeke). Botter elke mini-toebroodjie en pak in ‘n kleinerige oondvaste bak. (sowat 625 ml kapasiteit bak). Meng die room, melk, eiers en ekstra eiergeel, suiker en vanielje in ‘n bakkie en klits. Gooi dit geleidelik oor die brood en laat goed week vir 2 minute. Besprinkel die broodpoeding met die bruinsuiker. Plaas die bak in ‘n oondpan. Vir die waterbad gooi genoeg kookwater tot halfpad van die poedingbak. Bak 40-50 minute tot net gaar. Haal uit en laat staan 10 minute voor bediening. Bedien met vla.

Buurvrou se wildsboudjie en stoweperskes

3 Sep

Een van die mooiste kosgebruike is die karmenaadjie: die boere het met slagdag ‘n slopie vol vleis na die buurplaas gestuur – lekker stuk beesrib, wors, en so meer. Die dag wanneer die bure  slag stuur hulle weer ‘n karmenaadjie terug. So word die oorvloed versprei. Die goeie buurmanskap-simbool het natuurlik ontstaan in tye voor verkoeling met baie vleis om te verwerk en te bewaar.

Buurvrou se appelkoosboudjie met gestoofde perskes en koring. Net dit.

Nou die dag ervaar ek ook ‘n stukkie van hierdie mooi gebaar uit jaar toet. ‘n Gawe vrou uit my buurt laai ‘n karmenaadjie af met wildsvleis: Springbokboud en lekker baie bene wat ek kan afkook vir rafeltjievleis-pastei. Kosbaar vir hierdie voorstedeling. In die gees van goeie buurmanskap laai Sarina Viljoen die weldoener sommer twee boude af – vir my vriendin en kollega Anita Franken ook een. Anita verdien dit want sy’s ook ‘n buurvrou wie se waarde ver bo dié van korale geskat word. As sy nie self vir jou kos aandra nie, dra sy ‘n resep aan.

Met ons goeie buurtskap-boudjies is die vraag nou – hoe om dit gaar te maak? Óf die Italiaanse manier met kersies en jenewerbessies waarmee Elizabeth David my so honger geskryf het; óf Springbokboud met portsous wat ene Klein-Karoo sal smaak.

Ek oorweeg selfs ‘n Kreoolse boud in ‘n sous gegeur met tamatie puree, neutmuskaat, fyn komyn, brandewyn, bietjie port en baie piesangs. Die idee van die baie piesangs is net te piesangrig vir my. Wederhelf mor toe ek die meriete van soetsuur-Springbok roerbraai met sesameolie, sojasous, sjerrie en bruinsuiker opper. Dan eerder wildsblokkies-op-‘n-stokkie gegeur met borrie, klappermelk, rissies, tamaryn, sitroengras en grondboontjiebotter.

Ek tob oor die moontlike troumaats vir my boud: gemmer, koljander, steranys, tiemie, naeltjies, neutmuskaat, peperkorrels, wonderpeper,  knoffel, lourierblaar en basiliekruid. Appelkooskonfyt tot appeljellie en kweperjellie. Ek kan rondspeel met bruin asyn of wit,  vrugtesap, droё witwyn, olyfolie, sesame olie, sojasous, bruinsuiker, port, korente, pruime, droё appelkosies, vrugteblatjang of bessies.

Anita is uitgesproke oor watter resep sy gaan gebruik. Sy wik en weeg nie. Sê net: “soms is die beproefde weë die ware en regte weg. Niks eksoties of uitspattig nie. So na aan boerekos soos kan kom.” Bykosse ook nie vol fieterjasies nie. Springbokboud gestop met ’n vetjie en ‘n vruggie,  ure-lank in die oond gebak, is al klaar kos vir ‘n koning.

Anita en ek takel die wildsboudjie saam.

Anita en ek takel die wildsboudjie saam.

En daar tref die lus vir wildsvleis voorgesit net met ‘n bak koring, vleissous in Ouma se erfbekertjie en gestoofde perskes my. En iewers ‘n skeppie kweperjellie. Buurvrou, jou resep vir gestopte Springbokboud met appelkoos-marinade sal dit wees.

Maar eers ‘n paar basiese riglyne:

Wanneer dit by die gaarmaak kom, onthou dat wildsvleis van nature ‘n maer vleis is. Geen marmering vind plaas nie en daar is min geleentheid vir vetreserwes om op te bou. Voorkom droë boudjies so:

*  Moenie oorgaar maak nie. Dis veilig om die sagter snitte liggaar of medium te bedien.

*  Sny altyd teen die grein sodat op kort weefsels gekou word. Dit verhoog die persepsie van sappigheid.

*  Bardeer met spek om uitdroging te voorkom. Netvet is ideaal vir snitte wat vir ‘n korter tyd gaargemaak word.

*  Lardeer met spek, knoffel of jong groente.

Algemene wenk vir gaarmaaktyd:

Laat 15 – 20 minutes in ‘n voorverhitte oond toe teen 160°C per 500g plus ‘n verdere 15 – 20 minutes. Die vleis is gaar wanneer die vleissappe helder is.

Die volgende tipe marinade kan gebruik word:

1. ‘n Mengsel met hoë suurinhoud, wat help met die afbreek van proteiene

2. ‘n Mengsel met vars pynappelsap of gemmer wat ensieme bevat om die   kollageen af te breek wat die weefsels aanmekaar hou.

3. Karringmelk of room wat melksure bevat om die bindweefsel af te breek en die vleis sappiger laat.

Vir jong vleis is ‘n marinade nie altyd nodig nie, omdat dit die delikate smaak kan oorheers.

Vele hande ...

Vele hande …

Buurvrou se gestopte Springbokboud

Die  lardering met gerookte spek gee die boudjie bietjie vet aan die vleis en ‘n lekker geur aan die appelkoserige vleissous.

 1 Springbokboud

200 g Gerookte repiespek om boud mee te stop

Sultanas of rosyntjies, vir stop

250 ml witwynasyn

5 ml fyn koljander

30 ml sojasous

10 ml bruinsuiker

80 ml olyfolie

2,5 ml fyn naeltjies

5 ml mosterd

125 ml blatjang

½ pakkie gedroogte appelkosies

Sny die repies spek in die helfte. Rol op en plaas dit in ‘n mengsel van sout, peper en bietjie olyfolie.  Maak diep kepe aan beide kante van die boud, druk ‘n rolletjie spek en ‘n sultana in elke snit. Plaas boudjie in ‘n geskikte bak om te marineer. Meng die res van die marinade-bestanddele saam en giet dit oor die boud. Bedek dit en plaas in die yskas vir 12 uur. Draai van tyd tot tyd die boud om.

Nou vir die gaarmaak. Daar’s twee opsies:

Die boudjie het nog so 2 uur om te gaan. Gooi so nou en dan die vleissous oor of draai om.

Die boudjie het nog so 2 uur om te gaan. Gooi so nou en dan die vleissous oor of draai om.

Voorverhit die oond tot 180ºC. Plaas die vleis in ‘n oondvaste bak en giet die marinade oor die vleis, tesame met 500 ml water. Bak vir 1 uur en verlaag oondhitte na 160ºC. Bak nog 2 – 3 uur, bedruip gereeld met die marinade. Bak die laaste halfuur sonder deksel om te verbruin. OF

Voorverhit die oond tot 120°C. Plaas die vleis in ‘n oondvaste bak en giet die marinade oor die vleis, tesame met 500 ml water. Bak 7-8 ure met deksel op tot die vleis begin loskom van die been. Bak die laaste 30 minute sonder deksel sodat die vleis verbruin. Laat die boud in die louoond rus voor die gesny word.

Sous: Plaas nou jou eie stempel op die sous. Gooi muskadel of port by, jewenerbessies as jy wil, sout en peper, kweperjellie, selfs bietjie suurroom.  Die balans tussen suur, soet en sout is hier jou uitdaging. Om die sous te verdik vryf gelyke hoeveelhede botter by meelblom in en klits dit by die sous in en kook deur.

(Resep aangepas uit Camdeboo Karoo Wildsvleis).

 

Die perskes het ek gestowe in heuningtee (of rooibos) met kaneelstok en nartjieskil. Vir soetighed bietjie esdoringstroop.

Die perskes het ek gestowe in heuningtee (of rooibos) met kaneelstok en nartjieskil. Vir soetighed bietjie esdoringstroop.

Boud en bykossies uit ‘n ander se mond.

Ek moet ook hierdie mooi storie met jou deel wat Marietjie Koekemoer Swanepoel my vertel:

“My ouma het droëvrugte (perske en pruimedant) oornag in portwater laat week. Met ‘n kaneelstok en gedroogte lemoenskil (haar huis was nooit daarsonder, altyd iewers in die komuis gehang) daarby. Die vog het sy die volgende dag van die vrugte afgegooi en gebruik om die Springbokboud in te kook. Sy het die vetgeswelde vrugte dan opgekook in van die portwater en ‘n teelepel vlapoeier by gemeng. Die vrugte is bedien as bygereg, nie as nagereg.

Die boud self is vooraf marineer in karringmelk en gestop met ui, spek en ‘n rosyn. Met die oondtoegaan is hy moederlik ingevryf met geskroeide koljander, witpeper, sout en ‘n titsel naeltjie. Repe spek is oor die boud drapeer. Stadige hitte, stadige gaarmaakproses, deksel op. Die laaste 10 minute voor uithaaltyd, het sy geklopte appelkooskonfyt oor die boud gesmeer en bedruip met vars room wat vanoggend geskei is van die melk in die melkkamer. (ons Karookinners het jare gepraat van die ‘séperaterkamer’). Sy het dan die oondrooster op hoog gestel en die eindproduk (10 minute ge-oondrooster) het nooit as te nimmer teleurgestel. Die pansouse is omskep in die lekkerste sous denkbaar. Ons het daai pan uitgelek met die wysvinger saam.”

aaa ipad boudfoto mooi

  MET DANK AAN SARINA VILJOEN VIR DIE KOS-GESKENK. LANK LEWE DIE KARMENAADJIE EN MEDEDEELSAAMHEID.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 408 other followers

%d bloggers like this: